top of page
  • Uitmelkbos

NAAR, NAARDER, DE AAR

Dit was nie my voorneme om hierdie relaas oor my terugreis uit Durban op die Shosoloza Meyl op ‘n negatiewe noot te begin nie. Njannies. Met vratte en al bly ‘n treinreis, enige treinreis, ‘n belewenis.

My illustrasie het my egter gestonk. Hoe begin jy liries skryf oor sonsondergange en wat nog as die foto bo jou blog lyk soos ‘n oorlogsone wat onder ‘n missiel deurgeloop het?

Ja, daardie gapende dakke is werklik die hartverskeurende gesig wat jou begroet as jy De Aar se stasie binnery. Ek het die foto laat Sondagmiddag uit wa 8, kompartement G van die Shosoloza Meyl op pad na Kaapstad geskiet, en moes dit eenvoudig vir wyer konsumpsie hier publiseer.

De Aar: tuiste van Olive Schreiner. De Aar: een van die hoofslagare van Suid-Afrika se eens vooruitstrewende spoornetwerk. Nou lyk hy só. De Aar, De Aar, hoe vreeslik naar!

Terwyl In dié trant, kan ek maar net so wel ook my sê oor Durban sê en klaar kry. Hy’s ook naar (en gaar en baar), glo my. Dié sonskynstad van vroeër lyk of ‘n ewige nag oor hom gedaal het. Bitterbessiedagbreek … bitterbessienag.

Die plek is kapot van verwaarlosing en agteruitgang. Google gerus “Death of Durban”. Daar sal jy tonele sien wat jou laat gril.

Boonop het een of ander misleide owerheid verordineer dat die hele strandfront – vermoedelik met die oog op 2010 – “opgegradeer” word. Die stootskrapers is ingestuur. Zat het oorgebly. Vir vakansiegangers in Desember wag bittere ontugtering. My advies sou wees: bly weg!

Die Wêreldbeker kan maar kom en gaan. Oor sulke verwoestingswerk swaai geen s.e.b.-maatskappy in ‘n jaar of twee ‘n towerstaffie nie.

Durban en De Aar is nie al vrotkolle op die roete nie. Maar hulle is die ergste. Oor die mindere gruwele swyg ek liewer, want ek wil my nie self in ‘n depressie inskryf nie.

Nou die treinreis. ‘n Vriendin, Marlene Scholtz van Bloemfontein, beskryf dit, aan die hand van vorige Shosoloza-ekskursies soos volg:

“Ek het veral die stadige pas van die trein geniet, so asof hy nie wil

klaarmaak nie, en dat mens sommer só hoog sit en uitkyk. Ek het

meeste van my tyd sommer net só teen die kussings gelê en gekyk

na die veranderende landskap. Wat ‘n plesier.”

Ek moet Marlene komplimenteer. Sy vat die “lekker”mooi raak. Moet sê om die son oor die heuwels en valleie van Natal te sien sak, die eerste sagte môrelig op die Vrystaatse vlaktes tussen Bethlehem en Kroonstad te sien skyn, sonsondergang tussen Kimberley en De Aar in die Karoo mee te maak; en ‘n vurige sonsopkoms tussen die Bolandse berge duskant die Paarl te beleef, is salig. Ek was ook ure voor die venster vasgepen – opnuut verwonderd oor ons mooi land, geseën met soveel natuurlike skoonheid.

Slegs ‘n treinrit bied jou die weelde van sulke onbelemmerde natuurwaardering in beweging.

Vir die tweeling, Jacob en Thomas Claassens (5), was die rit van oor 36 uur een groot avontuur. Om op die boonste banke rond te klouter en aan die klimleertjie rond te swaai, was hul idee van vetpret, uur ná uur, en basta! (Ek het ‘n foto van hulle en Ouma Tokkie van onder af waarop jy net tande en knieë sien!)

Dan was ons trein betyds oor die hele reis. Amper op die minuut. Dit wil gedoen wees. Die treinbeddegoed is skoon en aangenaam. Die personeel is in die algemeen hoflik en hulpvaardig. En die prys van ‘n treinkaartjie – dis seker een van die laaste winskopies in hierdie tyd van multi-inflasie en anderlike ekonomiese teenspoede.

Maar sindelikheid sal moet groter aandag kry. Anders gaan die Meyl ‘n bepaalde segment passasiers afskrik. Jy wil nie die stort vermy omdat jy nie kans sien om kaalvoet op sy vloer te trap nie. Jy wil ook nie die toilet met argwaan betree nie.

Ander ding: toe ons opklim, kom ons agter die kouewaterkraantjie in ons kompartement is droog. Die joviale treinbestuurder raai hy’s dalk “uitgeblok”, want verduidelik hy, om probleme “uit te blok” is makliker en goedkoper as om ‘n fout te herstel. In Kimberley kom ‘n loodgieter kyk. Hy bevestig die diagnose.

‘n Mens kan nie help om te wonder wat alles in die liewe, nuwe “ S.A.S. en H.” sê maar oor tien jaar “uitgeblok” gaan wees nie.

Van “blok” gepraat: op ‘n paar blokkie ys sou hierdie reisiger, met die oog op sy skemer-roetine, met entoesiasme gebie het. Maar van Durban tot op Bellville was geen ys te koop nie; nie in die (verslete en verbeeldinglose) sirtkamer/eetkamer-waens nie; ook nie op stasies soos Bloemfontein en Kimberley nie.

Hier’s gulde kans vir ‘n entrepreneur, want weet julle hoe smaak vuurwarm Klippies en Coke!? (HvD)

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page