Nederigheid is ‘n mooi, eerbare deug en alles maar ek stem saam met Kenneth Galbraith dat dit oordryf kan word. ‘n Mens kan ook TE nederig wees. Dan verbeur jy heelwat lewensplesier.
Al sal die hiper-nederiges seker sidder, glo ek ‘n mens kan jou veroorloof om jou eie monumentjies, hoe beskeie of gering ook al, onbevange te geniet. Veral as jy ouer word. Jy raak verplig om al hoe meer vir jouself te lag. Dit verskaf net ewewig as jy nie wat jy bereik onder die spreekwoordelike maatemmer hoef te verberg om vir ander minsaam of eerbaar voor te kom nie.
Oor die verskyning van die uwe se e-boek, Spore in die bos – swerftog van ‘n olifant, voel ek nogal danig in my skik, en hoekom sal ek nie ‘n bietjie breë bors daaroor wees nie? Die waarheid is immers dat ek aan die begin van die 90’s nog absoluut getroud was met my tikmasjien – “tot die dood ons skei”.
Trouens, so negatief en traag was ek oor die oorskakeling van daardie getroue ou werkslaaf tot die nuwe, ondeurgrondelike rekenaartegnologie dat ek in ‘n stadium besorgd gewonder het oor my verdere loopbaan in die perswese.
Oorskakeling was, ook in in my eie geval, in die praktyk nie altyd glad en pynloos nie. Gelukkig het ek darem nie, soos Oom Baffie Coetzee, Ficksburgse korrespondent van Die Volksblad, ooit ‘n hele boek in die droewe dieptes van verlorenheid laat verdwyn nie, maar hoofartikels en Willemrubrieke wel, en ook op ‘n Saterdagoggend ‘n hoofstuk van my eerste boekie, Scoops en skandes, wat in 1993 by Tafelberg die lig gesien het. ‘n Tegnikus is vergeefs ontbied.
Oom Baffie, terloops, het as ‘t ware sy ganse bestaan met die delete-knoppie uitgewis. Die ou man het in sy gyse 70’s begin werk aan ‘n outobiografie en was iets oor die 80 toe hy tevrede was dat dit blink genoeg geslyp is. Toe …… poef! Ramp en ellende!
Nietemin, ek is nou 71 en weet van rekenaars nog net voldoende om redelik oor die weg te kom. Die kinders en allerlei spesialiste moet maar gedurig help met raad en daad. Dus was dit vir die ouman pure plesier om gister sy eie-eie e-boekie vir $6,99 (spotgoedkoop!) by Amazon aan te skaf en op sy Kindle af te laai. Vir almal wat leef en beef, wou ek net hierdie “wonder” op die klein skerm wys.
Die gevoel was nie minder behaaglik nie as die middag op pad terug van ‘n vergadering op Worcester toe wyle Werner Wager, hoofbestuurder van die Pers se fabrieke, in sy koffertjie delf en die eerste eksemplaar van “Scoops” in my hand prop.
Glimlag dus gerus maar ‘n bietjie uit die hoogte oor my kinderlike opgewondenheid. Frons maar oor my onbeskeidenheid. Vir my is dié klein buiginkie in ‘n nuwe digitale wêreld ‘n heerlike avontuur, iets soos ‘n beslissende veldslag, ‘n verowering. Ek is oud maar ek is DAAR!
Mayafudi, die hoofkarakter in “Spore” is die nimlike maaifoedie van my vorige olifantboekies, Mayafudi en Mayafudi – memories of an elephant wat in die middel van die eerste dekade van die nuwe millennium gepubliseer is. Nie al die resensente was ewe gaande oor my olifante nie. Een het my na die woordeboek gedryf met die beskuldiging dat ek my aan antropoformologie besondig. Eerste keer dat ek met daardie groot woord kennis gemaak het!
In die herverpakking van die storie het ek o.m. ook getrag om van haar besware uit die weg te ruim!
Hier is die skakel, sou sy of iemand anders wou gaan kyk of ‘n proeseltjie van die boek van Amazon wil aflaai: http://www.amazon.com/dp/B0087B7DOU .
Vir diegene wat nie daardie olifantpaadjie wil loop nie, herhaal ek graag hier wat Amazon oor “Spore” meedeel:
Stropers, storms, brande, uitdunning, konfrontasie met mense – gelouter deur rampe, durf Mayafudi ‘n epiese swerftog aan op die voetspore van sy beroemde oupa, Mafunyane, berugte kwaai bul met die manjifieke tande. Rou herinneringe bring Mayafudi tot ‘n gewelddadige uitbarsting. Die groot olifant storm ‘n safarivoertuig. As hy vir sy lewe moet vlug dryf sy oudag-herinneringe hom terug na sy kleindae-kontrei.
Die lewensmoë olifant vind rus vir sy onstuimige hart langs die graf van sy kloeke moeder, Ukuthula. Hier in die oewerbos langs die Sabierivier wag ook ‘n heerlike ontdekking …
Volgens Amazon (of die uitgewer e-Boeke vir Afrika, seker) is dit “plek-plek ‘n hartverskeurende storie wat oud en jonk met nuwe oë na olifante sal laat kyk.”
Hoop werklik dis nie te “antropoformologies” nie!
Comments