Heelbo: Proteas by sy graf
Bo: Hy tuur oor die hawe …
Slim honde, sjarmante honde, skattige honde … ondernemende honde, onverskrokke honde, onhebbelike honde … dan ook nog doodgewone honde wat, met permissie gesê, skoon bedinges kan raak. Dis die klas natneus-nuusmakers waaroor ek in “‘n Vriend vir altyd” (Human & Rousseau, 2000) geskryf het.
Net soos by mense, moet jy nie in een hond al die beste eienskappe soek nie. Just Nuisance, die Deense hond, waarvan ‘n fiere, lewensgetroue bronsbeeld al hondegeslagte lank oor die hawe van Simonstad uittuur, is een “vriend vir altyd” wat op vele onderskeidende eienskappe aanspraak kan maak.
Verlede week was ek nie net by Just Nuisance se beeld nie. Ek was ook langs sy netjiese graf op die kronkelpad oor die berge Scarborough se kant toe. Iemand het proteas daar gelos. Al was die blomme al verdroog, was dit ‘n mooi huldeblyk. Ek was spyt ek het met leë hande gekom.
Just Nuisance het in sy kort lewe van gewone matrooshond tot internasionale hondelegende gegroei. Diaardie merkwaardige lewe van hierdie unieke gelukbringer van die vloot in die Tweede Wêreldoorlog word ook in die Simonstadse museum en elders op die dorp uitgebeeld, onder meer in die sakesentrum op die karaktervolle Jubileeplein, die Deen se laaste staanplek.
Die ou grote met die slobbergesig was volwaardige lid van die vloot: ‘n bevare seeman op die betaalstaat van die H. M.S. Afrikander. Van: Nuisance. Naam: Just. Hy had, soos die ander matrose, sy eie slaapbank. Ongematigdes is gou uitgesleep!
Nuisance is dikwels saam met sy matroosmakkers van kroeg tot kroeg. Oral is ook ‘n drankie uit sy eie “kroegbakkie” geniet. Hy kon sy drank vat. Kyk ‘n makker te diep in die bottel, was dit hy wat hom veilig by sy kaserne of op die laaste trein besorg het. As ‘n inspekteur die hond uit die trein boender, het hy eenvoudig die volgende een gehaal. Die tydtafels was blykbaar aan hom bekend.
‘n Keer is hy saam met ‘n matroos na George. Sy terugtog was te voet. Toe ‘n makker in ‘n Kaapse stegie met ‘n mes aangeval is, het hy by ‘n taxidrywer in Adderleystraat hulp gaan soek. Hy is saam met die gewonde in die ambulans hospitaal toe – het sy gesig bly lek en verseg om pad te gee totdat sy maat, na verskeie bloedoortappings, buite gevaar was.
Hy was ‘n hond vir seremonie en lief vir parades. Wanneer “God save the king” aangehef is, het hy luid saamgeblaf – na bewering in perfekte harmonie. Wederstrewiges tydens die verpligte tweeminuut-bidpouse elke dag is deur hom bestorm en tot gehoorsaamheid gedwing.
Ook maar hond, ook maar lus. Twee nakomelinge is in Benoni verwek. Hul ma was die teef Adinda. Hul aankoms in die Kaap was vir jou ‘n okkasie. Lede van die Griekse koningsgesin, ambassadeurs en die burgemeester was aan weerskante van die strate. Daar was vlae, rooi tapyte en golwe van applous.
Soos elke legende wat sy sout werd is, was Nuisance geen engeltjie nie. Hy kon hom bloediglik vererg. Dan AWOL hy sommer drie weke. Hy het weerstand gebied wanneer hy by klubs uitgegooi word, kleiner gelukbringers van ander skepe gebyt en sy halsband telkens verloor.
‘n Foto waarby Tokkie op Simonstad lank stilgestaan het, was van Nuisance in ‘n hosptaalbed, omring deur verpleegsters. Die voorpoot is uitgestrek vir ‘n bloedoortapping of iets. Ja, die ou was ook maar net vlees en bloed.
Soos gras is ons almal se dae. Op 1 April 1944 – sy sewende verjaardag – is bevare seeman Just Nuisance in die skeepshospitaal die genadedood gegee. Hy is met volle militêre eer ter ruste gelê, gedrapeer in die vlag van die vloot. Sy graf is netjies reggemaak en word waardig onderhou.
‘n Poot-saluut vir jou, baas se honne.
Comments