top of page
  • Uitmelkbos

‘N SWAELTJIE SE SMART


Twee swaeltjies dartel-duik sorgvry oor ‘n pad. Enetjie, die wyfie, se tydsberekening laat haar in die steek. ‘n Motor snel op haar af. Sy probeer wegswenk, maar te laat – sy word getref en syg op die teer neer, ‘n patetjiese bondel wit, blou en bruin veertjies.

Die mannetjie pyl besorgd na benede en kom sit by die sterwende wyfie. Haar oe raak al hoe dowwer en sy hyg na asem. Al waaraan hy kan dink, is om haar te voer. Hy gaan soek so vinnig soos hy kan lekker saadjies (of goggatjies?), en voer haar met ‘n oop bekkie en fladderende vlerke. Gretig probeer sy iets eet, maar sy het nie die krag om te sluk nie.

“Ek moet nog kos gaan soek,” dink die mannetjie raad-op. Hy los haar net ‘n paar sekondes alleen. Toe hy terugkom met ‘n tweede liefdesoffer, is alles verby. Die mooi voeltjie het haar laaste asem uitgeblaas.

Die mannetjie probeer haar eers weer voer; daarna probeer hy haar lewelose liggaampie met sy snawel uit die pad sleep. Hy fladder paniekbevange heen en weer om haar. Toe gaan sit hy langs haar en huil met ‘n oop bekkie – absoluut ontroosbaar.

Enkele dae na die Wildtuin-sage van Alexander die olifant se skielike dood en sy maat se rou wat toeriste so aangegryp het, beland hierdie storie uit Frankryk per e-pos op my rekenaarskerm.

Miljoene mense in Amerika, Europa en tot in Indie het trane gestort toe hulle die foto’s sien wat deur ‘n onbekende fotograaf vir ‘n appel en ‘n ei aan een van Frankryk se topkoerante verkoop is, lui die teks.

Die koerant met die swaeltjie-storie het geglo verkoop soos soetkoek en al die eksemplare is opgeraap kort nadat dit op straat verskyn het.

Een van die reeks pragtige foto’s van die mannetjie se smart by sy dooie wyfie is hierbo herhaal. Ek weet nie wie om daarvoor erkernning te gee nie. Net so weet ek nie wie vir die teks verantwoordelik is nie.

Met die gevolgtrekking van die onbekende outeur kan ‘n mens egter moeilik verskil. Dit is dat voels klaarblyklik ook emosies soos vreugde en hartseer ervaar.

Is hierdie reeks foto’s dan nie die bewys nie?

Maar nou moet ‘n mens versigtig wees. Jy word gou-gou van “antropomorfisme” beskuldig – ‘n groot woord wat niks anders beteken nie as dat jy diere vermenslik.

In haar resensie van my olifantboekie Mayafudi (kyk die blog: “By die dood van ‘n olifant” enkele dae gelede) het die gedugte Cecile Celliers my met daardie voorhamer bygekom – en ek moet erken ek is dadelik woordeboek toe om agter te kom wat ek gesondig het. Dit was die eerste keer dat ek daardie geleerde woord teenkom.

Dat “antropomorfisme” vir sommige literatore ‘n doodsonde is, en dat baie dierekenners ook maar vinnig koes om tog net enige suspisie van so ‘n swakheid in hul wetenskaplike mondering te vermy, het hierdie leek daarna al hoe meer agtergekom.

Nou soek ek nie rusie met slim mense nie, maar wonder ek tog stilletjies: hoe verklaar ‘n mens die gedrag van hierdie swaeltjie en van Alexander, die groot ivoordraer, se maat as hulle nie tot “menslike” emosies soos diepe droefheid en liefde in staat is nie?

Ek het ook nog ‘n paar soortgelyke hondestories om te vertel, maar kom ons los dit tot ‘n volgende keer.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page