Al Debbo was vir jou oulik en snaaks of onuitstaanbaar (na persoonlike smaak), maar vir ons generasie was hy ‘n huishoudelike naam. As komediant, akteur en sanger kon jy oral in die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld sy voetspore vind – diep spore.
Hoe treurig dat so ‘n ster twee jaar gelede op 87 as ‘n brandarm man graf toe is.
Oor ou Al met sy rol-oë en bossie-wimpers is ek aan die dink gesit deur Herman Lategan se lekker artikel in Sondag se Rapport oor die weghôl-treffer “Hasie” van Anton de Waal en Nico Carstens. Dit het een van Al Debbo se handelsmerke geword.
Dankie, Herman – dis die eerste keer dat ek daardie lirieke van voor tot agter te lese gekry het – en pertinent gewys is op al die verrassende, wulpse “double entendres”: “my pannekoek, my heuningnes….”
Van Hasie is in ‘n japtrap 50 000 plate verkoop in die dae toe 50 000 nog amper so onbereikbaar soos die maan was. In Amerika sou net een so ‘n voltreffer soos “Hasie” Debbo ‘n ryk man gemaak het – onthou watter goudmyn was die blondine Farah Fawcett-Majors se “sexy” plakkaat.
Dan was daar nog Debbo-uitskieters soos “Sonbrilletjies” wat die rande (of destyds nog die ponde) moes laat inrol het. En sy rol in lekkerlag-flieks soos “Fratse in die Vloot” saam met Frederik Burgers.
Maar toe eindig hy as ‘n motorwag by ‘n Bloemfonteinse inkoopsentrum – afhanklik van fooitjies. Goeie genade!
Debbo se storie was bepaald ene met ‘n stertjie, soos Rapport se opskrif gelui het. Maar ‘n ander soort stertjie – een waaroor hy graag teenoor wie ook al wou luister, sy hart uitgestort het.
Reg of verkeerd, het Al Debbo geglo hy is “ingeloop”, “verneuk”, “vir ‘n raaid gevat”. Ander het die geld uit sy sukses gemaak, nie hyself nie, het hy herhaaldelik by jou gekla. Miskien het hy maar net te veel en te maklik geld uitgegee – hoe sou ‘n mens nou weet?
In daardie inkoopsentrum had Tokkie ‘n rukkie lank – voor ons verhuising Kaap toe – ‘n geskenkewinkeltjie. As ek by haar gaan inloer, kon ek nie anders nie as om die toenmalige bekoorder van skares hangskouers tussen die motors te sien rondloop vir ‘n genadebroodjie.
En te wonder …
Later het hy tog weer voor klein gehoortjies opgetree. Ek was nie lank in die Kaap nie (vroeg in die 90’s) toe die Pers se veiligheidsmense inBloemfonteinkonferensie hou. Die uwe is genooi om ‘n toespraak te kom lewer. Ons het die aand gekuier soos tradisioneel by Die Volksblad gekuier is: met braaivleis en pap in die binnehof by Voortrekkerstraat 79 (nou Nelson Mandelarylaan).
Debbo het “Hasie” gesing, en “Sonbrilletjies” en ander bekendes uit die jare her. Hy het sy oë gerol en sy tandeborsel te voorskyn gebring om sy wimpers te “kam”. Applous het weer opgeklink, en weer. HvD het laat aan die woord gekom. Hy moes kort praat sodat die vleis nie te koud raak en die bier te warm nie.
Ek was oorweldig met ‘n diepe jammerte vir die man. Die Al Debbo-era was toe al so tasbaar verby dat dit die hart week gemaak het: sy weerloosheid en sy hard probeer om die ou glorie te laat herleef. Dit was die laaste keer dat ons paaie gekruis het. In 2011 (as ek reg onthou) was die berig nogal op die voorblaaie van hierdie “ikoon” se dood.
‘n Storie met ‘n stertjie, ja. Die “heuningnes” het vir Al persoonlik ook ‘n “suurlemoen” geword – ‘n “spinnekop”, ‘n “skerpioen”.
Comments