top of page
  • Chomsetussenbetragtings

'n Storie vir julle...

Hy loop by my verby by Spa Park Primary se hek, opvallend moeg.

Of is dit gatvol?

Baie lank, baie maer. Onbepaalbare ouderdom, want elke moeggeleefde jaar lê ‘n ander lyn op sy gesig.

Toe ek later weer uitry by die skool staan hy so ent ver langs die pad, asof hy vir my wag. Klap hande liggies teenmekaar in die klassieke asseblieftog-gebaar, en teen my beterwete (darem ná ‘n vinnige skietgebedjie) laai ek hom op.

Hy’t skaars sy sit gekry, toe “Baie dankie my Miesies” hy my al.

Ek maak anderpraatjies terwyl ek die slaggate in die pad probeer misry. Vra hom of hy daar rond bly.

“Nee my miesies, ek bly in die lokasie,” sê hy, sy oë stip op die pad. “Ek’t net my dogtertjie se kossietjies vir haar gebring. Sy was bietjie laterig vanoggend, toe wouwou die taxi vir haar wegry, toe’t haar lunchboxie oppie tiewie bly staan in die gejagery.”

“So... het jy geloop van die lokasie af, madala, om jou dogtertjie se lunch vir haar te bring?” Ek sukkel om dit te glo. Dis amper elf kilometer.

“Ja, my miesies, mar dis nie so groot probleem nie. Gelukkig is my voete lank.”

My keel is lus om toe te trek. Die ou-ou kibbelding van “maak grootte saak?” kom by my op. Ek dink aan al die simpel grappe wat al hieroor gemaak is, en aan hierdie man, wie se voete se lengte vir hom die pad van die lokasie af Spa Park toe korter maak.

En ek dink aan Miriam.

Miriam, wat laas Vrydagoggend by die kantoor kom vertel het haar jille hys het geflad, ons moet kom kyk, en foto’s neem.

Ons ry, en sy babbel opgewonde in lekkerluister-Afrikaans (“Ek’s haaf-kallerd, jy weet”) oor die plasie naby Naboom wat sy binne die volgende week of twee gaan betrek, want die ghawwermint het haar aansoek om deel te wees van een of ander bemagtigingsprogram vir vroue goedgekeur. Sy’s net spyt die plasie is so bietjie klein, want sy’t baaaie mense wat sy wil help met werkskepping, en dat hulle uit die lokasie uit kan kom. Die plasie se grootte was toe vir Miriam belangrik.

Vier dae later is Miriam dood. Doodgeskiet, deur 'n fokker vir wie die grootte van sy gun die grootte van sy mag bepaal het.

Miriam se plasie se grootte maak nou nie meer saak nie.

En my brein kan nie ophou steier nie.

************************************ Die storie hierbo het regtig gebeur. Verlede jaar, Februariemaand. Ek kon gladnie daarmee cope nie. Die feit dat ek die laaste "lewendige" foto van Miriam geneem het, en vier dae later is daar weer 'n foto van haar op presies dieselfde plek, maar dit was van haar lyk onder 'n kombers. Ek kon ook nie cope met die feit dat die ou met die gun 'n polisieman was wie se vuurwapen al vantevore van hom weggeneem is omdat hy so lief was om mense daarmee te dreig nie. Of dat hy Miriam se een dogtertjie van 9 ook koelbloedig doodgeskiet het nie. Dit als omdat haar ouer dogter nie meer met hom wou uitgaan nie. My werk het skielik vir my 'n nagmerrie geword. Ek't baie getjank, wou sommer bedank. My wyse baas (die ene wie se amazing skryfsel oor haar dogtertjie se bril ek onlangs vir julle gepos het) sê toe ek moet dit uit my lyf uit skrýf. Dit het gewerk. Soortvan.

1 view

Recent Posts

See All

Net 9 disse?

Kom ek op hierdie interessante berig in die Sowetan af vandag, en herken myself toe baie goed! Alhoewel die studie onder die Britte...

My kortverhale (wow, dit was pret!)

Hy klap die agterdeur met 'n dawerende slag agter hom toe. Sy bly op die vloer sit, en vryf oor haar brandende wang. *** "Mamma, waar's...

Joeeeeehoeeee! Ek's terug! (dink ek...)

Hallo liewe blogvriende! Ja, vir die eerste keer in VIER maande het ek weer soortvan internettoegang! Dankie vir die van julle wat my nie...

Comentarios


bottom of page