top of page
Uitmelkbos

‘N SAMARITAAN EN SO


Onder die enjinkap (en ander plekke) van my Honda-in-die bos het die stof, blare en sulke dinge van ver paaie vergaar, en nou laas in Bloemfontein, twee weke gelede, laat ek die spulletjie toe skoonspuit. Die resultaat was blinkskoon binnegoed, maar ‘n kar wat op drie silinders loop.

Piet Theron, oud-kollega, het my op ‘n Sondagmiddag na ‘n medelidmaat, Willem Booysen, gebring. Vir ‘n donasie vir die gemeente het hy ‘n nat vonkprop vervang en die Honda slaggereed gekry vir die lang pad verder. (Op die foto is die uwe links en Piet regs. Hy lyk net jonger. In werklikheid is hy ietwat ouer as ek.)

Piet en Willem is albei samaritane. Ek ken Piet só. Hy is ‘n staatmaker. Samaritaan …. staatmaker. Opvallend is dat albei die beskrywings met esse begin. Dit tref skielik dat verskeie ander s-woorde ook op Piet van toepassing is. Ek begin toe ‘n s-lysie maak rakende my oud-kollega, woonstelmaat in ons jong dae en vriend van Tukkiedae af. Dit word ‘n lang lys.

Op Tukkies was hy bekend as Piet Sportie – nie net self ‘n knap senter/losskakel nie, maar ‘n toegewyde sekretaris van Kollege se rugbyklub. Hy was ook Piet Skêr – ‘n haarkapper van formaat. Bae ouens wat later bekend geword het op vele terreine het op Tukkies met Piet Theron-haarkapsels gespog.

In sy loopbaan was Piet o.a. Piet Sub en Piet Sportskrywer. Laasgenoemde het later Piet Sportredakteur geword. Hy was ook hoofsub, nuuredakteur en assistent-redakteur.

Piet is ‘n veel-Sydige mens. Hy is Piet Snoeier wat ‘n ongetemde boord vinnig kan kafdraf. Hy is Piet Slagter wat weet hoe om ‘n bees te bewerk. Hy is Piet Sjef wat lekker kan kosmaak. As baasbraaier troon hy uit.

Toe sy jonste seun, Pieta, reeds oorlede, ná ‘n operasie wat sleg skeefgeloop het, nie met sy werk kon voortgaan nie, het Piet Piet Sweiser geword. Hy het vreesloos hoë lere bestyg om raamwerke vir allerlei kontsruksies te sweis – en ‘n paar keer geval dat hy hik. Hy het ook Piet Smous geword (in ‘n mooi sin) wat namens Pieta in swart gebiede met meel handel gedryf het. In daardie hoedanigheid is hy op ‘n keer sleg aangerand, maar dis ‘n ander storie.

In uitdagende en beproewende omstandighede het hy ook vir die moeder van Pieta se kinders ‘n wonderlike Piet Skoonpa geword. Ek glo sy sl saamstem.

Piet is nou Piet Samelewing, wat hom veral op die geestelike heil van sy (NG) gemeente en die politieke heil van die groter Bloemfonteinse gemeenskap toespits. Hy is o.a. redakteur van ‘n lewendige kerkblad en ‘n voorsitter van die D.A. se kandidatekomitee wat nie onsin van kabouters verdra nie.

Piet is ook Piet Skrywer. As iets hom pla, skryf hy aan die koerant. Sy weldeurdagte briewe word wyd gewaardeer. Hy skryf op die oomblik aan twee boeke; een is plus-minus in finale manuskripvorm. Albei lyk vir my die moeite werd.

Op een s-beskrywing sal Piet bepaald nie kan aanspraak nie. Hy is geen Piet Swyger nie. Soms spreek hy dalk wanneer dit beter sou gewees het om te sjuut. Maar dis Piet Theron. Hy steek nie sy sentiente of sienswyses onder die sand weg nie.

Naskrif: Die luiperd loop vanoggend breed in Gwarrieboslaan rond. ‘n Jong pa en sy kinders was oopmond. Ek het ‘n paar manne met kortbroeke gesien. Skielik tuimel die kwik egter. Lyk of reën in die lug is …. en nog een van die koue fronte wat deesdae op mekaar se hakke volg.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page