top of page
  • Uitmelkbos

‘N PASIeNT SE PYN


In die dokter se wagkamer sit ‘n mens gewoonlik maar op naalde en spelde, nie wetende wat jou gaan tref nie. Dis seker die spanning in die lug wat mede-pasiënte soms so koddig laat optree.


Die ergste beproewing is die spesie wat blykbaar hul spanning verwerk deur aanhoudend te babbel. En slim soos die houtjie van die galg – moenie praat nie! Waarom jy nog moet ingaan dokter toe weet jy nie altyd so mooi nie, want dikwels is jy teen daardie tyd kant en klaar gediagnoseer en geprognoseer, as so ‘n woord bestaan.


Party Jobstroosters put mos behae daaruit om vir enigeen wat wil luister die swartste prentjie denkbaar te skilder. Dan praat hulle boonop uit “eie ervaring” – word jy somber met strak gesigte meegedeel terwyl die tonge bejammerend klik.


‘n Middeljarige man skuifel een middag omtrent dubbeld gevou aan, terwyl sy vrou hom in ‘n stoel in die wagkamer help. ‘n Wildvreemde vrou met die neus soos die snawel van ‘n arend aan die oorkant van die wagkamer kyk die storie so en bevind daar en dan: ‘Artritis met komplikasies.’


Die man se vrou skud haar kop. ‘Nee’, verduidelik sy, ‘dit was doen-dit-self, met betonblokke.’ Lekker bloutjie geloop!


Praat oor diplomasie wat in sy afwesigheid skitter. Een ou tante wat al deur die donker tonnel was, gesels oor haar ervaring met die ontvangsdame by die spesialis. Die ander mense weet hul moet ook nog daar deur – maar word so bang gepraat dat een arme oom glad onbedaarlik begin bewe.


Ouers se “diplomasie” is soms ook bra gebrekkig en hul kennis van kindersielkunde klaarblyklik maar karig. Pa en Ma sit met n klein pikkie in die wagkamer . Kort-kort maak hulle die outjie bang. Los dit, los dat. “Netnou kom die dokter hier in met daai vreeslike spuitnaald … “


Of in die die tandarts se wagkamer ” Sit stil , ek roep sommer die tandarts om te kom boor in jou bek.”


‘n Spesiale spesie in die ou dae was die Springbokradio-verslaafdes. Hier teen 15:00 moes jy pluisies saamvat. Dan dawer die draradio’s by al wat ‘n spreekkamer is terwyl die nuutste geheime van Die geheim van Nantes ontrafel word of iets in dier voege; omtrent ewe irriterend as wanneer jy verdiep raak in ‘n artikel in ‘n tydskrif wat jy nie gereeeld sien nie, en – skielik – hier ontbreek ‘n blad. Seker ‘n goeie resep op die agterkant gehad – of dalk n mooi meisie!


Dokters se wagkamers lewer gelukkig ook episodes om oor te glimlag. ‘n Seuntjie het probleme met sy waterwerke. Terwyl hy ongemaklik op sy boude sit en rondskuif stap ‘n jong man in uniform die wagkamer binne. “Oom army-man,” wil die seuntjie belangstellend weet, “is jou totterman ook seer?”


‘n Ander keer sit die wagkamer vol toe ‘n man binnestorm: “Dokter moet gou kom, my vrou skenk geboorte in n taxi.” Die dokter gryp sy tassie en laat spaander. Later lek die storie uit: toe hy die “mammie” se rok opruk en begin onderklere uittrek, kry hy ‘n vuurwarm klap. Daar was verskeie taxi’s en hy was in die verkeerde een!


Onthou julle nog die Annelie van Rooyen-liedjie oor die meisie wat dokter toe is en toe’s dit al die tyd die outjie op wie sy op skool so verlief was – die “flank van die eerste span”? As ek reg onthou, had daardie liedjie ‘n gelukkige einde – “they lived happily ever after”.


Bedink egter die ontnugtering van die arme vrou wat op grond van die sertifikate teen die wagkamermure begin vermoed sy en die dokter was klasmaats. Toe sy hom sien, kan sy dit amper nie glo nie. Hy’s dan stokoud.


Tog vra sy uit: waar was hy op skool, watter jaar en so?


“Jy was in my klas,” kondig sy uiteindelik aan.


Die verpotte mannetjie verskuif sy brilletjie om haar beter in fokus te kry.


“O watter vak het jy gegee?”

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page