Van papsmere en dies meer weet hierdie ou – soos die meeste mans, sou ek raai – niks, maar helemaal niks.
Die grappie hierbo wat my vandag per e-pos bereik, herinner my egter aan ‘n storie wat eintlik te goed is om nie oor te vertel nie.
Dit gaan oor Tokkie, my vrou. Sy is nie juis ‘n selfoon-aanhanger nie. Hare is meesal af. Haar eie nommer ken sy ook nie, omdat, soos sy dit stel, sy mos nooit nodig het om haarself te bel nie.
Myne ken sy wel. As sy ‘n selfoonnommer moet verstrek, is dit altyd myne, nie hare nie.
Op ‘n dag loop ons twee in ‘n winkelsentrum. Trieng-trieng-trieng, kondig my selfoon ‘n boodskap aan.
Ek delf die instrument uit ‘n baadjiesak en druk die knoppie vir “messages”.
Toe ek die boodskap oopmaak, lui dit kort en kragtig: “Papsmeer normaal”.
“Wat’s dit?” verneem sy nuuskierig.
“Weet nie,” antwoord ek, “iets oor een of ander pap-besigheid – maar klink darem na goeie nuus!”
Om ons het mense verbaas opgekyk toe sy skielik vrolik uitbars van die lag.
Kommentare