top of page
  • Uitmelkbos

‘N OUTYDSE ‘AU PAIR’TJIE

Drie kuiergassies vereer my en Tokkie hierdie Aprilvakansie met hul teenwoordigheid hier op Melkbos. Pa. Brent, en Ma, Marisa, kuier sorgeloos in Sabiepark.

Hier sit die drie, Jacob en Thomas, wat vat-vat aan ses, en Christopher, wat so skuins verby een is, vir Oupa en poseer of botter nie in hul mond kan smelt nie.

Wel .. botter kan!

Christopher se ambisies om in alles met die ouer boeties kers vas te hou, beproef by geleentheid hul geduld en wek by die jongste die frustrasie van verydeling. Die reaksie weerspieël die magteloosheid van ‘n eenjarige wat in kommunikasie en mededingendheid by amper-sesjariges afsteek.

Gistermiddag al begin ek wonder oor die beskikbaarheid in hierdie tyd en dae van ‘n gesogte tradisie uit die “goeie ou dae”. Dit word beskryf met n koppelwoord wat met “kinder” begin, maar waarvan die agtervoegsel politiek te inkorrek is om op skrif gesit te word.

In Europa noem hulle mense wat plus-minus dieselfde funksies verrig, “au pairs”. Ek dink tog die Suid-Afrikaanse weergawe was beter.

Die rol wat dit in my eie prille jeug gespeel het, was volgens my oorlede ma nogal betekenisvol, nie net om my te leer hoe om poetoepap met my vingers te rol as ek so saam-saam uit ‘n groot swart pot sit en eet nie, maar om vir my ‘n Zoeloewoordeskat aan te leer wat aanvanklik my Afrikaanse woordeskat aansienlik oortref het.

Dit het my boonop onder moedersvoete uitgehou, en ek was glo maar ‘n lastige ou babatjie met my kroepborsie en al sulke dinge.

Dit is met daardie binnekennis dat ek bereid is om beter as markverwante vergoeding, plus byvoordele, aan te bied.

Tokkie huldig egter die ontnugterende opvatting dat ek drome droom en gesigte sien. “Jy yl, meneer van Deventer, jy yl. Waar sal ons so enetjie uitkrap? Nie in Rietvlei se bos nie.”

Altyd ‘n optimis, plaas ek my versugting desondanks my vrou se bedenkinge tog maar hier op my bloggie.

Iemand weet nie dalk waar so ‘n goeie outydse variasie op die tema van ‘n byderwetse “au pairtjie” in die hande gekry kan word nie?

Die vergoeding wat ek aanbied, groei met die uur!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page