top of page

‘n Oukei handvol?

Uitmelkbos

Tydelik terug, terwyl my genant oorsee rondflenter. En welkom ook terug aan Schalk Schoombie. Groen koring op die land, nè? Boomkastele, op gans ‘n ander vlak as Judaskus, die speurroman van Rudie van Rensburg wat hy vir Boeke24 bespreek. Kyk nie op nie, kyk nie af nie. Kyk duidelik: Schoombie se analise is vars en vinnig. Sien dadelik die strukturele andersheid van Van Rensburg se skepping in. Die geheim is vroeg uit. Die vraag is wie gaan met die kulwerk wegkom. Lekker ook, bygesê, om ‘n resensent te kry wat nie die storie vertel nie, maar die leesproses bloots ry. Ditto Deborah Steinmair. Skryf oor Judaskus in pasende Rapport Boeke. Terwyl die toon by Schoombie ernstig is, is daar by Steinmair ’n groter kritiese afstand – maar ook humor, wysheid en geesdrif wat sy maar net nie kan verdoesel nie. Die boek verduister ongesiens ’n dag uit jou lewe, merk Steinmair op. Die hoeveelheid inligting wat sy dan oor die verhaal verskaf, is meer as genoeg vir diegene wat weet wie Kassie Kasselman is. Wysheid? Kyk maar gerus hoe kom Steinmair uit by die fonteintjie. Een boek, twee uiteenlopende resensies, albei vol lof. Van Rensburg kan die bors breed uitstoot. Maar dan is daar ook Joan Hambidge se resensie van Marlise Joubert se Bladspieël (Rapport Boeke). Goeie donder. Die lengte en die aard van die resensie maak my wys Hambidge het baie tyd spandeer aan hierdie bundel. Ook aan die resensie. Wie se idee was dit dan om die kort inleidingsparagraaf vir die resensie as volg te formuleer: “Dis eintlik nie so goed soos die vorige een nie, maar daar’s ’n handvol wat oukei is, skryf Joan Hambidge.” Brutaal. Ligsinnig. Traak-my-nie-agtig. Hoekom dan nie maar volstaan met “thumbnails” in plaas van resensies nie? Hè? Sal graag wil weet of Hambidge dink dis oukei vir haar resensie. André Gouws skryf in Boeke24 oor Willie Steyn se Die groot Boere-ontsnapping. Die derde keer dat hierdie verhaal in boekvorm aan die bod kom. Gouws noem dit nie. Die verhaal? Vyf Boere-krygers ontsnap van ’n Britse tronkskip, en beleef ’n  reeks avonture waaroor avonturiers maar net kan droom. ’n Ware verhaal – wat van hierdie boek ’n soort outobiografie maak, aangesien Willie Steyn een van die ontsnappers was. Die resensie self laat mens nie juis regop sit nie, maar snaaks genoeg het ek dit end-uit gelees. Ek weet ek is nie veronderstel om oor resensies van Engelse boeke te skryf nie. Moet egter noem van Joan Hambidge se reguit-linker in haar resensie van David Attwell se JM Coetzee and the Life of Writing. Daai hou het nie ses duim getrek nie, maar het die kinnebak getref. Skryf sy: “Attwell verwag dat die leser Kannemeyer se biografie (J.M. Coetzee: ‘n Geskryfde lewe, 2012) ken en hy fokus op die ragfyne drade tussen (die) lewe, intriges (soos sensuur) en die skryfproses.” Wat? Hoekom het die biograaf nie die ragfyne drade tussen die lewe, intriges en die skryfproses ook beskryf nie? Te gou van ons weggeraap, sê u? Wel, het Kannemeyer ‘n voorstudie geskryf, sodat Attwell by die kernsake kon uitkom?

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page