Kyk, ek voel skoon siek omdat ek so blatant vir ‘n vriend gelieg het oor hoe gesond ek is.
Hy bel vanoggend uit die verre noorde na ‘n lang onderbreking in kommunikasie en – hoewel hy ‘n jaar nader aan 70 as die uwe moet wees – klink hy onheilspellend opgeruimd, energiek en lus vir die lewe.
Ek steier amper fisiek oor die denkbeeldige joviale skouerklap met sy groot, sterk hand waarmee hy gewoonlik ontmoetings onder vier oë begin.
“Hoe lyk dit, ou bulperd?” wil hy weet. “Skop dit darem nog daar op Melkbos?”
Ek wil nie graag verklap dat ek effens oes voel na dalk ‘n glasie of twee te veel sauvignon blanc by ‘n ete saam met vriende gisteraand nie.
Ek sidder ook by die gedagte om hom in te laat in die geheim dat dit deesdae ‘n stryd is om my regterkous aan te kry. Die einde van die gesukkel is gewoonlik n kramp in die linker-bobeen wat as stut moet dien, ‘n brandpyn in die linkerkuit en ‘n gefluit in my kortasem bors.
Dan is die kous nog maar driekwart aan, en lê ‘n laaste stukkie kraginspanning voor om die tone tot voor in te wurm.
Ek sien ook nie kans om te verklap watter folterpyn van die lae rug af grondwaarts geflits het nou die dag toe ek ewe onskuldig van ‘n riempiestoel aan n etenstafel wou opstaan nie.
“Tokkie, bring my kierie,” moes ek dringend sis.
Selfs my liewe vrou, wat gewoonliki vermoed dit kan nie so erg wees soos ek voorgee nie, was klaarblyklik dadelik oortuig dis nie ‘n gewone ou pyntjie wat my beet het nie. Binne n paar sekondes was my kierie in my hand. Steunend en met bewende hand op die kierie se handvatsel, kon ek toe darem seer-seer met verdrag orent beur.
Al die pynlike tonele van fisieke agteruitgang skiet soos promosie-flitse voor my oë verby terwyl ek kuggend ‘n antwoord op daardie gelaaide vraag formuleer.
“Ja,” antwoord ek oplaas – en hoop om oortuigend te klink – “dit skop.“ Toe lieg ek, wat nie ‘n gewoonte-leuenaar is nie,ongevraagd ‘n stertjie by. “Pas terug van ‘n lang verfrissende wandeling op die strand. En die jong meisies word mooier by die dag, hoor. Jy moet kom kyk.” (hy’s n wewenaar)
“Goeie,ou Hennie,: laat hy hoor. “Skop vas, my maat, skop vas. Moenie laat die ouderdom by die voordeur in kom nie. Dan trek die goeie lewe by die agterdeur uit. Ha-ha.”
“Jy ook,” sê ek, en ek tas na my kortisoonspuitjie omdat ‘n ontydige niesbui my wil oorval.
Sy selfoon lui in die agtergrond. Hy maak verskoning en groet.
En ek sit hier in my miserable bondeltjie (bondeltjie!) en verknies my omdat my ou lyf soveel myle op het – dan het ek boonop daardie mylmeter waaragtig skaamteloos soos ‘n oneerlike verkoopsman van gebruikte motors probeer terugdraai om my ou maat om die bos te lei oor my ware kondisie.
Comments