top of page
  • Izak de Vries

’n Ode aan die orgie

Ek en knaap het vandag heeldag rondgeloop, want ek was weer ’n enkelouer. En ons tel nou al die ure af: “Wanneer kom mamma terug?”

“Vanaand, voor jy gaan slaap!”

Knaap het in die poeletjies by St James gaan speel terwyl pa ’n wakende ogie oor Joan Hambidge se Kladboek gehou het. Daarna het ons iets gaan eet by Octopus, daardie onvolprese klein restaurantjie langs St James se stasie. Ek het ’n “Vegetarian Orgy” geëet. Was dit nou heerlik!

Die uwe eet nie baie uit nie, want ek vind min restaurante gee jou waarde vir geld. Ek is lief vir kook en ek sluk swaar aan ’n duur maaltyd wat ek beter kon voorberei. Maar as ’n mens nou en dan afkom op ’n gelukkie, dan moet ’n mens maar “ja” sê daarvoor.

Octopus se orgie bestaan uit feta en botterneutpampoen saam met baie rocket en gekapte amandels. Alles word bedruip met ’n gemmersous en word bedien in ’n roti (hulle noem dit ’n “wrap”.)

Mensig. Dit was lekker.

So, met die son loom op my kop en Hambidge se woorde nog in brein, kon ek nie help om te dink dat ’n goeie storie en ’n goeie bord kos darem baie ooreenkomste toon nie. Wat is kos anders as ’n spul goed wat saamgevoeg is om jou maag vol te maak? Wat is ’n storie anders as ’n spul woorde wat saamgegooi is om ’n mens se brein vol te maak?

Droom ’n entjie verder, en wat is ’n erotiese oomblik anders as ’n lekker bord kos en ’n goeie storie?

Snaaks, as ek reis vir werk, eet ek meer gereeld “uit” as andersins. Ek het al talle hamburgers in die OR Thambo se kitskos-met-plastiekstoele-saal geëet. En daar is niks fout mee nie, maar daar is ook niks wat ek môre gaan onthou nie.

Maar, dink aan daardie erotiese oomblikke in jou lewe, die wat jy onthóú. Hoekom? Nie omdat ’n vreemde persoon noodwendig betrokke was nie – nee, dikwels juis nie. Dit was merendeels juis die bekende genoot wat skielik saam met jou iets anders probeer het, of ’n ou truuk wat weer nuwe lewe laat kry het.

Stories oor seks en die liefde het dieselfde neiging. Daar is kitskos, en dan is daar dié wat ’n mens onthou.

Saterdagaand na twaalf op e-tv kry jy presies wat jy soek: iets om met jou hande aan te vang as jou genoot te moeg is. Môreoggend gaan jy nie onthou watter een van die absurde situasies of meisies dit was wat jou uiteindelik verligting gebied het nie, want hulle is almal presies eenders. Hulle is gemaak om verbruik te word en vergeet te word.

Erotiese stories, erotiese oomblikke in jou lewe en goeie kos daarenteen – hulle bly jou by. Ek kan steeds die krakerige amandels onthou in vanmiddag se bord kos. Ek kan die sagte pampoen en die effens stywer feta se tekstuur nog op my tong voel – en hier water my mond al weer.

Ek wens julle lekker-onthou-oomblikke toe dié week.

Ek gaan nou vuur maak, want warm vlamme en ’n glasie rooiwyn het die vermoë om selfs moeë genote te laat smelt. ’n Mens het nie ’n orgie nodig om die terugkoms van ’n geliefde te vier nie!

1 view

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page