top of page
  • Izak de Vries

’n Nuwe begin

My seun was vreeslik beïndruk met Hello-Kietie se inskrywing "Murphy en die Goggafamilie." Knaap is nou eenmaal ook mal oor goggas en wou hy baie graag weet wat hierdie seuntjie met sy goggaboks doen.

Sien, my knaap het ook ’n goggaboks én hy het onlangs ’n klomp “wurms” in die tuin gevang en in ’n roomysbak aangehou. Hierdie “wurms” is ruspes wat op ons kamferfoelie wei. Kleinman het gereeld nuwe blare ingegooi. Een vir een het die “wurms” in papies verander en, tot ons vreugde, het daar die ander dag ’n skoenlapper uitgekom. (Hy was eweneens beïndruk met Meisiekind se foto’s en was heel vies toe hoor ek het hulle nie geneem nie.)

Ek wil dit heel metafories aanhaak by kommentaar wat Kittie onlangs op my blog gelaat het: Hoe begin ons weer die stukkies optel na xenofobie en hoe stuur ons mense weer terug na hulle ou lewens en huise toe? Dit was basies haar vrae op my inskrywing oor die visstokstorie.

Ek het wel hoop: Jare terug, in die vroeë 1990’s, het ek en Madlala mekaar daar in die townships van Pietermaritzburg leer ken. Hy het ’n groot Afro gehad, ek het lang hare gehad. Ek was ’n bietjie verlief op een van sy vriendinne (kom ons noem haar Z). Z was ’n klein mensie. Die huis langs hulle s’n is afgebrand een nag. Z se huis het vol bekers gestaan wat sy met redenaarskompetisies gewen het. Maar ons het nooit geweet of haar huis dalk volgende kon wees nie. Of Madlala s’n, of ...

Z en Madlala het in die ANC-zone gebly. Dit alleen was genoeg om ’n petrolbom te verwag.

Ek het ook mense geken in die IVP-zone. Hulle was ewe bang vir aanvalle van die jong Turke in die ANC.

Vandag is Madlala gemaklik. Ons pel Themba is ’n bestuurder by ’n enorme konstruksiemaatskappy. Ons ander pel, Sku, is ’n baie hoë kop by SARS (dis hoekom ek weet ek nooit belasting kan ontduik nie.)

Gaan ry vandag daar in daardie townships en jy sal nie kan glo dat ons soms daar gesit het en gehoor het hoe die faksies op mekaar skiet met outomatiese gewere nie. (’n AK en ’n R4 klink eenders as jy in die middel sit!)

Vir Z het die daais nie so mooi geval soos vir my ander pelle nie. Dalk oor sy ’n meisie was en verantwoordelik moes wees vir die meisiekind (ewe petite) wat ’n paar jaar later gebore is.

Die punt is: Dit is moontlik vir ’n gemeenskap om op te hou haat en weer te begin.

My dilemma is dat ons ’n langtermynoplossing moet soek vir die armoede wat ons land steeds in die gesig staar. En vir die onderwyskrisis. (Kyk ’n bietjie wat het Chollas en Clinton hieroor gesê op my inskrywing “Born Free? Ga!”)

Kassie sê hulle het vanmiddag tydens happy hour daaroor gepraat by die werk. Al sy base het voorbeelde gehad van Zimbabwiërs wat uitstekende Engels praat, goed opgelei is, en baie eenvoudige werk doen. Plaas hulle teen ons ongeletterde matrikulante...

Weer eens moet ek moed skep. Daar uit die toenmalige tuisland van Venda het talle dokters en ander professionele mense gestap. Talle. Van hulle is vandag bekende name in ons samelewing. Maar weet julle wat? Hulle het almal een skool in gemeen. Mbilwi Hoërskool.

Mbilwi het deur al die donker jare uitstekende studente gelewer. Een vriendin van ons, Ntondeni, is ’n baie senior persoon in die mediese politiek. Haar ma verkoop vandag nog tamaties langs die pad. Tog kon Ntondeni dit maak tot in die hoogste kringe in ons land se staatsdiens.

En so kan ek aangaan. Mbilwi het dit vir Ntondeni moontlik gemaak, al het haar ma geen formele opleiding nie.

’n Paar mense wat saamspan kan ’n enorme verskil maak. En uit ’n lelike “wurm” kan ’n pragtige skoenlapper kom.

Mooiloop!


1 view

Recent Posts

See All

Comentarios


bottom of page