top of page
  • Uitmelkbos

‘N, ‘N, ‘N – KYK, MA, LOSHANDE!

‘n Koshuismaat in Kollegetehuis, Tukkies, was Johannes Klopper, latere prof. Johannes Klopper, hoogleraar in kerngeneeskunde aan die Stellenbosse mediese fakulteit. Slim soos die houtjie van die galg, daai man! (As dit die gelukkigste idioom is om my bewondering vir sy intelligensie in uit te druk.)

Toe ek in 1959 ‘n tweedejaar was (tale en daardie klas dinge van die gees) en hy ‘n eerstejaar of ienk (medies) het ek my senioriteit misbruik om hom te dwing om vir my sekere take rakende my gevorderde Latynstudie (Latyn I!) na-uurs te verrig – wanneer hy eintlik Chemie en Fisika en daardie klas ding moet swot.

Ienk Klopper se Latyn was van die beste Latyn waarmee prof. Gonin in daardie Latyn I-klas te doene gekry het. (Vandag onthou ek omtrent nog net Catullus se minnegedigte: “Da mihi mille basia”, ens. (Gee my ‘n duisend soene). Maar dit daar gelaat.

Vandag het Johannes met hardnekkige geduld per telefoon die ou man geleer om dinge met sy rekenaar se sleutelbord te doen waartoe hy nooit in staat was nie. Daar was darem nie dwang betrokke nie – dit was uit sy eie vrye wil. Buitendien, ek is mos nie meer sy “senior”nie!

Ek kan byvoorbeeld nou ‘n skryf met die afkap-kommatjie nie meer agterstevoor nie. Wonderlik, kyk net: ‘n, ‘n, ‘n, ‘n …

Ek kan ook ander skitterende goed doen, byvoorbeeld om vir my vriend Pièrre Theron van die Groot Brak-kontrei ‘n boodskap te

stuur met die noodsaaklike aksent op die è, soos dit hoort: è, è, è, è …

Maklik was dit nie vir my of my leermeester nie. Ek was naderhand so verbouereerd dat ek nie reën kon spel nie. Dis maklik, ou simpel: REËN! Sien ek kan nou selfs in hoofletters die umlaut opsit.

Hene, Johannes, ek voel sommer ver gevorderd in my rekenaar-geletterdheid. Dankie, ook namens al die taal-fynproewers wat ek altyd met my verkeerde ‘n geïrriteer het. Jammer, weet nou nie meer hoe om die afkap-kommatjie vir oulaas so verkeerd-om in te sit nie, terwyl ek as ‘t ware daarvoor koebaai waai.

Naskrif: Bel gerus vir lesse. Maar onthou ek is ‘n professionele man: vra R400 ‘n uur – nes ‘n middelmatige loodgieter.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page