top of page
  • Uitmelkbos

‘N MA SE LIEFDE?


Aitsa! Painter en die uwe met ons Harvardbaadjies in 1997 op Melkbos.


Koerantmense dra die etiket dat hulle sinies is, soos prokureurs die etiket dra dat hulle skelm is. Ek betwis sulke veralgemenings. Jy kry joernaliste en prokureurs van die alleredelste inbors. Ek was dan self ‘n joernalis!

 Laat my egter maar erken: Jy kry wel siniese koerantmense – soos skelm prokureurs.  Vra my na een wat in my oë as sinies kwalifiseer, duik die naam John Painter heel eerste op. Dié Amerikaanse kollega kan nogal ongevoelig wees, ook bytend spottend, meedoënloos neerhalend en selfs brutaal.  Idealisme is nie juis sy sterkpunt nie.

 Ek slyp nie byltjies nie. Ek en Painter is ‘n soort “odd couple” sedert ons Niemanjaar aan Harvard in 1976/77.  Hy het al vir my op Melkbos kom kuier en ‘n pad deur my rooiwyn gedrink.  Hy het my en Tokkie al herhaaldelik genooi om die plesiere (hedonisties plesiere?) van sy “hot tub” in Portland te kom geniet.

 Die nimlike Painter – eintlik John Painter junior (junior is ‘n titel waarvoor Amerikaners nogal lief is) – het pas in Portland, Oregon, aan die Amerikaanse weskus, sy memoires te boek gestel. Die titel het my nogal laat glimlag – dis tipies van die man. Dis ook kos vir diegene wat graag die s-woord t.o.v. koerantmense inpan. Die titel is: If your mother says she loves you, check it out!  

 Ek dink ek weet wat hy bedoel: dat ‘n koerantman wat sy sout werd is, nie sommer alles vir soetkoek moet opeet nie.  Maak dubbel, dubbel seker jy word nie om die bos gelei nie!  Maar om juis moederliefde in hierdie konteks by te sleep, laat hom bepaald klink soos iemand wat vir sentiment en soetsappigheid geen tyd het nie. In daardie opsig is dit nogal onthullend en nie onjuis nie.

 Ek het al voorheen John Painter in ‘n stukkie hier en ‘n stukkie daar vermeld.  Wil vandag weer by die ou maaifoedie ‘n draai maak, en weet dat hy uit sy keel sou lag as hy sy maat van Melkbos se herinneringe sou kon lees en verstaan.    

 Painter  is ‘n man met ‘n slap arm weens ‘n ongeluk met ‘n renmotor, ‘n dawerende lag diep uit die keel en ‘n tong soos ‘n rasper. Het hom in die middel van 1976 in Cambridge leer ken.Soweto was daardie tyd in vlamme en ek het soms maar taamlik verstote gevoel.  Painter was die een wat, ondanks sy eie politieke oortuiginge, nogal mededoë met die vermaledyde Afrikaner-nasionalis openbaar het. 

Hy het  hard probeer om my te oortuig dat ek vir my eie veiligheid en dié van my gesin na Oregon moet emigreer. Hy kon taamlik brutaal demonstreer hoe “hulle” my keel in Suid-Afrika gaan oopsny!

In November het die eerste sneeu geval. Komende van Oregon was dit vir hom omtrent so vreemd as vir die Suid-Afrikaner. Vir my was dit ‘n vreemde nuwe wonderwêreld. Maar hy was altyd vies was as dit begin sneeu. Hy kon daardie “white shit”, soos hy dit disrespekvol genoem het, nie op sy kop verdra nie!

Ek en Tokkie is een aand saam met Painter en Annie (sy tweede vrou van drie) na die Bostonse akwarium vir ‘n onthaal. Die Bloody Marys het gevloei. Huis-toe-gaan-tyd was Painter baie spraaksaam. Toe hy wegtrek met sy Ford Thunderbird hoor ons net doef-doef-doef. Dit blyk toe hy het links gedraai pleks van regs. Ons was besig om trappie vir trappie in ‘n buitelug-amfiteater na die opelug-robbepoel benede te ry. Dit was ‘n gesukkel om die Thunderbird teen die steilte terug te stoot straat toe.  

Hoe dit gekom het, kan ek nie meer onthou nie, maar hy het ons daardie aand vertel van ‘n belangrike lewensles wat hy by sy pa geleer het.  Painter senior het vir Painter junior vermaan: Ek kan jou nie dwing om te doen wat ek vir jou sê nie. Ek kan jou egter baie spyt maak dat jy nie geluister het nie.

Twintig jaar later het hy hy my aan sy pa se woorde herinner toe juis tydens sy en Susan se besoek aan die Kaap die storm om Naspers-betrokkenheid by die Waarheids- en Versoeningskommissie losbars.  Painter het my aangemoedig om vir die 127 jongeliede wat WVK toe is om hulle van apartheid los te maak, sy vader se vermaning te herhaal: Dat ek hulle spyt kan maak as hulle nie wil luister nie.  Vir my verduidelikings oor hoe politiek sensitief die saak is, had hy min begrip. “Bullshit,” het hy my verweer afgemaak.

Hy het my ook die raad gegee om “swift, brutal and without mercy” op die dissidente toe te slaan.

“Swift, brutal and without mercy.” So het hy vir Susan en sy verleë SA gashere een middag uit die wynkelders van Boschendal gelei toe die sommelier nie die wyn kon lewer wat hy, ná ‘n uitvoerige studie van die onderwerp, die graagste wou proe nie.  Ek sien hom nog toe hy eenvoudig begin uitstap en vir ons met sy gesonde arm wink: “C’mon guys, let’s go.”

Snaaks, hoe meer ek van John onthou, des te minder verras sy boek se titel my!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Commenti


bottom of page