Van my pa, Seun, wat in ‘n koue wintersnag in Kimberley op 21 Junie 1946 op 35-jarige leeftyd oorlede is, het sy seun, wat presies op ‘n dag na dertig jaar jonger was, vae herinneringe.
Weet wel dat hy ‘n boer by Babanango was wat t.w.v. sy eerste kind se swak borsie sy grondjie moes verkoop en uitwyk stad toe – Kimberley was die keuse om verskeie redes. Hy het by De Beers as sekuriteitsbeampte gaan werk.
Pa sou op 21 Junie nagdiens doen, maar het skielik begin sleg voel en huis toe gekom, sy fiets op sy plek neergesit, sy klere netjies opgevou, in die bed geklim … en gesterf. Vinnige hartaanval. Ek was in die kamer, ‘n onbegrypende toeskouer. Vaagweg onthou ek ‘n ongewone geskarrel om my pa se sterfbed. Ouma Elsie het soort van bevel oorgeneem en alles in die stryd gewerp om hom weer te laat asemhaal. Niks kon gedoen word nie.
Herinneringe aan Pa Seun se dood, die begrafnis en Ma Baby se alleenheid daarna – ek onthou haar eensame figuur op haar fiets as sy in haar rouklere werk toe ry by die telefoonsentrale in Kimberley – is nuut oopgeboor toe ek by die Speelgoedmuseum op Simonstad (vorige twee blogs) onder meer ook Dinky-modelle van die oorlogstydse Hillman Minx gesien het.
Pa is dood met ‘n gebruikte Minx nuut in ons motorhuis – ‘n bloue met swart modderskerms. Dit het die groot Plymouth vervang. Ek staan my iets voor van ‘n eerste kennismaking met die plaasvervanger as Van D-gesinsvoertuig op blokke iewers in ‘n agterplaas, terwyl sy eerste eienaar iewers as soldaat in die “noorde” geveg het (of dalk gesneuwel het?).
Wonder hoeveel myle (natuurlik nog nie daardie tyd goeters soos kilometers en liters geken nie) met die Minx gery is voordat hy, kort ná Pa se dood, ‘n derde eienaar sou vind. Ma het die gedagte dat sy leer bestuur, beslis verwerp. Het nooit in haar lewe aan ‘n stuurwiel geraak nie.
Maar ek wil eintlik by die briefie hierbo uitkom. Aldus ‘n inskrywing in ‘n ou album van Ma is dit op 15 Junie geskryf, ses dae voor sy dood. Dit was die laaste keer dat hy pen op papier gesit het – om vir sy “liefste Baby” te vra om vir die motortjie drie pinte olie te kry, en ‘n olieblik by my oom Willie Smith (hy was ‘n diamantspeurder in Kimberley).
Van Pa onthou ek nie sy hande nie – was dit grof soos die hande van ‘n boer? – of sy stem nie – het ek sy stem geërf? Ek weet darem dat hy ‘n sterk handskrif gehad (met minder irriterende krulletjies en draaitjies as my eie, seg Tokkie). En dat hy Ma as “liefste Baby” aangespreek het selfs in ‘n vinnige briefie oor drie pinte olie!
In dieselfde album is ‘n koevertjie wat hy die dag voor sy dood as loon ontvang het. Dit was met sy dood nog onoopgemaak. In die koevertjie was 11 pond, 19 sjielings en 11 pennies. Sou dit ‘n week se verdienste gewees het?
‘n Mens wonder oor baie dinge as jy aan die rofies van die verlede begin krap. Hoe sou my lewe anders geloop het as Pa nie jonk dood is nie? Dit is ‘n vraag om oor te tob. Een ding is redelik seker: ek sou by Diamantveld in Kimberley matriek geskryf het, nie by Volkies op Potch nie. Ek sou seker nog altyd joernalis geword het, Volksblad toe gegaan, Tokkie ontmoet en getrou het en daardie klas ding? Maar ‘n Pa Malan sou daar dan natuurlik nie gewees het nie.
Een ding staan egter vas: g’n mens kan jou lewe terugwaarts anders projekteer as wat dit was nie – net fiksieskrywers. Daardie kuns kon ek nooit bemeester nie. Die naaste daaraan het ek gekom met my olifantstorie Mayafudi (2005) waarin feite en verbeeldingsvlugte onherkenbaar vermeng is.
Skielik kry ek lus om Mayafudi weer af te stof; hierdie keer dalk met minder feite en meer verbeelding. Of is 71 ietwat oud vir so ‘n klemverskuiwing?
Comments