HvD in die borrelbad
Sommer voor die vertrek van die vakansieskip die MSC Opera na Walvisbaai was in ons Melkbosgroep van 30-stuks ‘n konsternasie: Marten en Fimmie Grond se koffers is skoonveld. Die bussie moet al die pad met die Gronds deur die verkeer vleg terug huis toe om die raaisel op te klaar.
Bedink die verleentheid toe die twee “vermiste” koffers nog op dieselfde plek op die sitkamervloer staan waar hulle dit twee uur vantevore neergesit het. Dis die uwe se skuld, het Marten, ‘n ervare toerleier met al die papiere, later kans gesien om te verwyt. Ek het dan toegelaat dat die bussie te vroeg by my ry, en hulle toe oorhoops gevang. Mea culpa.
Bedink ook die eindelose spottery. Tot op die laaste dag wou iemand nog weet: “Marten, is jy seker jou koffers het nie in die kajuit agtergebly nie?” Al antwoord was so ‘n skewe, skamerige glimlaggie.
In twee konsternasies was die Van D’s die dramatis personae. Op die eerste dag klim ek in ‘n borrelbadjie op dek 11 (die Toscadek) saam met drie verbaasde knape, wat die ou gryse (amper sê ek met afgryse) op en af kyk.
“How old are you,” verneem een. “Seventy two,” antwoord ek eerlik. Sy oë versluier.
“How old are you?” “Seven.” “You have a long way to go.”
Nou het hy sy asem herwin. “You are older than my dad!”
“How old is your dad?” “Forty”.
“My children are forty.” “Your children are forty!!!”
Daarna is die ou oom geduldig touwysgemaak. “Hierdie kraantjie moet jy so draai, sien”. “Trap versigtig”. “Lekker né?”
Marten en Fimmie Grond
Konsternasie nommer twee is niks om oor te glimlag nie. Die enigste reaksie is ‘n klompie woorde wat in ordentlike geselskap bra selektief aangewend word. Ons raak naamlik op Walvisbaai besteel. Terwyl ons die flaminke op die strandmeer dophou, kry twee insittendes van ‘n wit Golfie raaiselagtig toegang tot ons Budget-Toyota.
Ons sien dadelik die bak staan oop. Op die agterste sitplek ontbreek Tokkie se handsak en my kamersak. Kredietkaarte moet gekanselleer word; by die polisie moet ek toustaan vir ‘n saaknommer … en die Opera wil vaar na die volgende bestemming: Luderitz.
Walvisbaai, o Walvisbaai! Iewers op daardie amibiese dorp loop iemand met die Van D’s se ID-boeke, rybewyse, kredietkaarte, mediese fonds-kaart, AA-kaart, Clicks-kaart, P’nP-kaart, R3 000 kontant, lang lens, verkyker, donkerbril en Vodacom-stokkie in hul sakke. Op Melkbos moet ons skarrel met reddingsaksies aan vele fronte. Praat van flaminke met geplukte stertvere – ken ons nie daardie gevoel nie!
Of van ons groep by die volgende episodes betrokke was, twyfel ek darem, maar die “cruise director”, Derrick (‘n Suid-Afrikaner wat flink Afrikaans kan praat), vertel van sy eie konsternasie, veroorsaak deur war-vrae soos die volgende:
* Slaap die bemanning ook op die boot? (Nee, daar is ‘n pendeldiens per duikboot!)
* Wek die skip sy eie elektrisiteit op? (Nee, daar is kabels van die land af!)
* Word seewater in die toilette gebruik? (Weet nie. Proe jy, en kom lig my in, asseblief!)
* Is dit seewater in die swembaddens? Dan op die bevestigende antwoord: “O, dis hoekom dit so rof is!
* Hoe kom ek uit my kajuit uit? Dan op die klaarblyklike antwoord: “Maar hier is net twee deure – een na die badkamer en die ander een met ‘n ‘Do not disturb’-kaartjie op.
Hopelik darem net ‘n bietjie grapjastery met die landrotte? Of is sekere passasiers se IK’s werklik in omgekeerde verhouding tot hul aansienlike lyfmassas?
Comments