top of page

’n Komedie van lekkerlag

Izak de Vries

(Alle foto’s deur Maynardville verskaf)

Ek het Donderdagaand A comedy of errors, wat in Maynardville opgevoer word, gaan kyk. Genade, ons het lekker gelag.

Shakespeare het aanvanklik die stuk laat afspeel in Griekeland, hoewel die navorsing toon sy temas en storielyn was geheel en al Italiaans.

Aangesien daar tóé reeds ’n deurmekaarspul was, het die regisseur, Matthew Wild, besluit om stuk ’n Chinese gevoel te gee, met ’n Kungfupanda en al. Shakespeare meets Bruce Lee, is die tagline wat hulle gebruik. Dit lyk en voel nou soos ’n Kungfufilm uit die sewentigs. En dit werk!

Tydens die pouse het die DJ (’n aktiewe deel van die “dekor”) “One night Bankok” gespeel en daar is afgesluit met “Everybody loves Kungfu Fighting!”

Vir dié van julle wat die stuk nie ken nie, die volgende: ’n Ryk, identiese tweeling word gebore en terselfdertyd gee ’n arm vrou ook geboorte aan ’n identiese tweeling. Die ryk man koop dan die arm kinders as speelmaats en lyfbediendes vir sy eie twee seuns. Hulle gaan op reis, maar daar is ’n storm en die twee pare kinders word geskei. Die een ryk seun en sy bediende gaan woon on die stad waarin A comedy of errors, afspeel, die ander in ’n land wat in ’n staat van oorlog verkeer met hierdie stad.

Veel later beland hulle in dieselfde stad, en nou dans die poppe!

Die poppies ook. Kyk, Shakespeare was stout, en hierdie akteurs laat sy wense leef. Die een sekscene (skreeusnaaks) tussen die verskriklike vet kombuismeisie en die (geheel en al verdwaasde) lyfbediende, is só realisties dat Corina (aka Droomkind) gewonder het of daar ’n ouderdomsbeperking op die stuk is.

Die einste Corina was baie jaloers oor die stywe broekies en geweldige lank bene waarmee die meisies rondgeloop het. Die skoene, platformstewels soos ek laas in Chuck Berry-video’s gesien het, was eweneens indrukwekkend.

Eintlik hoef ek nog net nog een klein dingetjie te sê: Om die komediant Rob van Vuuren in Shakespeare te sien slapstick doen, is ’n belewenis. Om egter te sien hoe James Cairns reël vir reël sy gelyke is, dis iets om te aanskou. Hulle twee het die identiese tweeling gespeel wat lyfbediendes was. Hulle was beslis die mees genotvolle duo op die verhoog.

Gaan heen en geniet elke oomblik van hierdie uitsonderlike vertoning. Dis pret. Enorme pret. Vet pret!

Regisseur: Matthew Wild

Kostuum- en stelontwerp: Angela Nemov

Beligting: Kobus Rossouw

Klank: Lynley Pillay

Musiek (geskryf vir die stuk): Shaun Michau

Stemafrigter: Liz Mills

Bewegingafrigter: Anelisa Phewa

Julle sal nie spyt wees nie! Ek het elke sent se waarde vir my kaartjies gekry.

2 views

Recent Posts

See All

Ena Murray deur die oë van ander

Ena Murray: 27 Desember 1936 – 4 Junie 2015 Alle foto's deur Susan Bloemhof Lekkerleesboekrak op Facebook was die eerste. Voor sonop was...

Why? / Hoekom?

A brief explanation on why I run without shoes. (Afrikaans hieronder) Nou die Afrikaans: Hoekom kaalpoot?

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page