top of page
  • Uitmelkbos

‘N KOEKELIEKOE OM 6:30


Anton Goosen het ‘n liedjie gesing met woorde in die volgende trant: “‘n Vroumens is ‘n slegte ding, ‘n slegte ding, ‘n slegte ding ….”

Lyk amper of die liedjie in antisipasie geskryf is oor wat nou in 7de Laan aan die gang is (ja, ek kyk nog, vir my sonde).

Die arme “Mince” was met sy deli goed op pad. Hier kom Bonnita met haar duistere agtergrond. Ai, ai, ai. Die arme “Mince”.

Dan sit hy boonop met die warkop Hilda as regterhand!

Eintlik is dit nie soseer die deli wat hierdie kyker se tone laat krul nie. Dis die Hillside Times. Oor daardie simpele koerantjie se wan-funksionering het ek al voorheen verbysterd hier kommentaar gelewer.

Maar dit gaan van erg tot erger.

Aggie, die “super char”, is nou ‘n besturende redakteur van formaat. Los alles vir haar: van redaksionele spertye tot voorskotte tot trae adverteerders. Die bekwame voorvrou vat raak en vat reg. ‘n Klein wonderwerkie, sou ek haar wou noem. Die woord “klein” is egter ontoepaslik – letterlik en figuurlik.

Dan maak sy nog so tussen in trefferjuwele, beur die verdrietige Isabel op en sorg in die algemeen toegewyd dat Hillside se moreel hoog bly.

Neville is ‘n redakteur om uit jou hart te bejammer. Waar is Mandla tog? Want die ligsinnige Paula is ‘n ramp, en die katterige San-Marie is ‘n ondergewig-liggewiggie, ook in haar boonste verdieping.

Een ding darem. Ek kan aan van die land se voorste rubriekskrywers dink wat haar die kuns sal beny om net “stokkies” met nuwe rubrieke aan te dra … sommer vyf op ‘n slag, terwyl T & T Lukie-loos ronddobber en die sweet in die gimnasium rol.

By my afskeid by die Pers, vroeg 1998 het die volgende woorde uit my mond op die spyskaart verskyn: “Deur my hele loopbaan het ek daarin geslaag om op die regte tyd op die regte plek saam met die regte kollegas te wees. As ek ‘n pluimpie verdien, moet dit vir my uitstekende tydsberekening wees.”

Die stomme Neville sal nie soortgelyk kan getuig nie. Hy sit waarlik op die verkeerde tyd op die verkeerde plek met die verkeerde mense, ongelukkige drommel.

En Tim? Hy pas baba op in Singapoer, die wegloper!

Hoekom het die onbekookte, ongeloofwaardige en papierdun mallemeule van mallighede my dan so beet dat ek elke aand om 6:30 die TV aanskakel?

Moet seker Clara wees. Sal darem lekker wees om met die oulike nooientjie te kan koekeliekoe (as dit naastenby die ding se naam is) ja!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Kommentare


bottom of page