top of page
  • Uitmelkbos

‘N KOEK WAT DIE KOEK VAT!


Mariette Brummer (4) en Elindi van Rensburg (5) word verdwerg deur ‘n berg Kunsmark-koek.


Gesondheid! So kon jy iemand toeroep wat Saterdag 22 jaar gelede by die vyfde verjaardag van Die Volksblad se Kunsmark in Bloemfontein ‘n stukkie vrugtekoek in die mond sit.


In daardie koek was 15 bottels brandewyn (geen tikfout nie)!


As die brandewyn-volume ietwat ruim klink, onthou darem dit was nie sommer so ‘n koek nie. Vir perspektief, hier is die volledige resep:


70 kg koekmengsel

30 kg meelblom

15 kg suiker

60 dosyn eiers

15 bottels brandewyn

18 kilogram botter

15 kilogram kersies

9 kilogram neute


Die jare 80 was vir die Kunsmark ‘n goue dekade en sy vyfde verjaardag op 2 Mei 1987 was feestelike dag in Koningspark, daar neffens die Vrystaat-stadion.

Die spesiale feesprogram het ingesluit vrolike musiek deur die Sukovs-orkes (die Radeszky-mars, Du kannst nich treu sein, Don’t cry for me Argentina en nog ‘n hand vol ou treffers), sang deur Philip en Ella Kotze, ‘n feesrede deur die Administrateur, Louis Botha, die loslating van duiwe, allerlei wedstryde (eerste prys: ‘n Esté Mostert-skildery), ‘n teetuin vir eregaste onder die groot koeltebome en wat nog.


Vyf duisend stukkies van daardie yslike verjaardagkoek is uitgedeel. Die resep is uitgewerk deur die SA Droëvrugteraad se Christelle Muller, en die berg bestanddele is deur ‘n hele rits borge geskenk. Om die koek gebak te kry, was natuurlik ‘n reuse-operasie. Panne is deur die Weermag verskaf en oonde deur Pick ‘n Pay-Hipermark. Twaalf koeke is deur die Hipermark gebak. Die koeke was so onhanteerbaar groot dat dit in twee gesny moes word om te vervoer.


My Tokkie-vrou wat toe organiseerder van die Kunsmark was, en drie vriendinne het gesny en gesny totdat hulle vingers kramp. Toe is die koek Koningpark toe aangery in Hi-Aces wat deur Toyota verskaf is en waarvan die sitplekke verwyder is.


In een van my 60-plus foto-albums is ‘n foto waar Tokkie opkyk na ‘n straatnaambord: Tokkiestraat. Daardie Tokkie is die nimlike sy. Die plek is Koningpark, en die vernoeming was ter herinnering aan haar jare se arbeid as ‘n toegewyde en gewilde organiseerder van die uiters geslaagde kunsmark. (Voor haar was Georgane Oberholzer en na haar Marietjie Gericke).


Die kunsmark wat in 1982 met ‘n beskeie 28 uitstallers tot stand gekom het, was gou, volgens mense wat weet, die grootste en kleurrykste in sy soort in die land. Die eerste Saterdag van elke maand was dit ‘n hoogtepunt op die Rosestad se sosiale kalender. Op Kunsmark-Saterdag het gereeld meer mense soggens na Koningpark gestroom as smiddae na die rugby in die Vrystaat-stadion!


By daardie vyfde verjaardag – “die grootste verjaarsdagparty wat Bloemfontein nog gesien het” — was sowat 700 uitstallers op die boeke. Uit alle dele van die land het hulle opgeruk, selfs uit Namibië, Botswana en Lesotho. Günther Brozel, wynmaker van Nederburg, het dit ekstaties beskryf as “Fantasties! Pragtig! Wonderlik! ”


Tokkie (en haar man) is vir die stigting en die bedryf daarvan vereer met ‘n oorkonde van die stadsraad en goue medaljes vir gemeenskapsbetrokkenheid van die Bloemfonteinse Publisiteitsvereniging.


In haar geval wil ek beweer die oorkonde en medalje was meer as verdiend. Vir my was die vreugde wat die Kunsmark gebring het en die liefde van die gemeenskap daarvoor oorgenoeg beloning. Ek het aan die Kunsmark net heerlike herinneringe.


Na my oordeel was die Kunsmark een van Die Volksblad se beste promosies. Maar soveel hoofde soveel sinne. Enkele jare nadat ek uit Bloemfontein is, het Die Volksblad nie langer kans gesien vir die organisatoriese verpligtinge wat dit meebring nie. Die stigtersband is gebreek.


Oor die beweegredes en die meriete van daardie besluit wil en kan hierdie ou gryse hom nie uitlaat nie. Ek glo nogal as jy jou beurt gehad het, het jy hom gehad. Daarna gun jy diegene wat na jou kom hulle beurt. Jy hou dus jou mond en basta.


Maar ek is darem ook nie onbewus van uitstallers en andere wat na die goeie ou Kunsmark-dae terughunker nie. As iemand van daardie kader hierdie blog lees, kan hy of sy gerus Saterdag saam met my ‘n glasie op die “ou” Kunsmark klink.


0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page