top of page
Uitmelkbos

‘N KAMERAAD OOR KAMERADE

Die hoofredaksie van Die Volksblad in die 8o’s hou na 40 jaar re-unie in die wildtuin. Sarel Venter staan links van my. Regs van my is Herman le Roux, Piet Theron en Paul Marais.

Sarel Venter, ‘n besonderse koerantkameraad uit eie reg maar gelukkig nog in lewe, het my die eer aangedoen om oor Koerantkamerade uit eie beweging ‘n positiewe lesersindruk te skryf. Vanselfsprekend is ek ingenome en dankbaar.

Sarel is ‘n gewese adjunk-redakteur van Die Volksblad en ‘n sleutellid van die hoofredaksie in my redakteurskof in die jare 80’s. Hy het hom veral as ewewigtige kommentaarskrywer onderskei. Dat ‘n joernalis van sy statuur oor die betekenis van Koerantkamerade so vriendelik oordeel, is vir my spesiaal en waardevol.

Sarel skryf onder meer:

“Hennie van Deventer, oudredakteur van Volksblad en gewese hoof van koerante by Naspers/Media24, het ’n prysenswaardige taak aangepak in Koerantkamerade, volgens hom sy laaste boek – nommer 20. (Dit is sy sesde boek met ’n koerantagtergrond.)

“Hy noem die inhoud van die boek informele “grafskrifte” vir ’n 50 stuks koerantkamerade, mense wat veral in die vorige eeu in die koerantesfeer gearbei het. Aan hulle bring hy hulde soos blomme na ’n graf. Rose? En dalk ’n paar dorinkies?

“Hy vertel van die lewe en werk van verskeie mense in die koerantwêreld. Van sogenaamde groot karakters of mense van statuur. Maar ook van hulle agter die skerms; diegene wat nie bekende openbare figure was nie. Verdienste, rol of nalatenskap was geen maatstaf nie.

“Maar almal is al saliger. En die lys van mense wat uit sy bos gekap is, word al hoe langer … (Die titel van nog ’n boek uit sy pen is Byl in my bos, Griffel 2009.)

“Die skrywer het met die meeste persoonlikhede van agter die papiergordyn in sy koerantloopbaan van 35 jaar persoonlik kennis gemaak; saam met baie van hulle gewerk, sommige goed leer ken. Hy lig die sluier oor intriges in nuuskantore en direksies, en stel sy tydgenote met deernis en humor bekend. Sy fyn waarnemingsvermoë en uitstekende geheue – steeds op tagtig! – blyk duidelik.

“Koerantkamerade – in Van Deventer se reeds kenmerkende, boeiende en vloeiende skryfstyl – is ’n besonder insiggewende en waardevolle magnum opus-bydrae tot die vroeëre eietydse geskiedenis van die koerantbedryf, en ook van Suid-Afrika.”

Om ’n moontlike leser “lus te maak om hierdie onderhoudende boek te lees” gee Sarel , ’n paar kort grepe uit van die 52 hoofstukke, onder meer van Piet Cillié, redakteur van Die Burger, later professor in joernalistiek in Stellenbosch en voorsitter van Nasionale Pers, Wynand Mouton, voorste kernwetenskaplike, oudrektor van die Universiteit van die Vrystaat, voorsitter van die SAUK-raad (en vriend van Volksblad wat op sy dag ‘n koerantverkopertjie was), Ryno Verster, arts en bergklimmer en 43 jaar lank rubriekskrywer van Volksblad as “Dokter Goedhart gee raad” (wat seker ’n wêreldrekord was), asook Gert (GPD) Terblanche, minsame oudredaksielid, politikus, kultuurleier, kerkleier en ambassadeur wat twee maande voor sy 99ste verjaardag in 2021 as die oudste Volksbladder oorlede is.

Die boek is gepubliseer deur die uitgewery Naledi in samewerking met die webblad Nagkantoor en met ‘n ruim subsidie van die LW Hiemstratrust..

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page