As iemand gedink het ek oordryf die rol van die syfer 3 in my lewe, kan ek meedeel dat die eerste besoek van bloukuifloeries hierdie vakansie my storie verder voer. Drie van die manjifieke voëls met hul donkerblou en rooi veredosse het in die reuse-rosyntjie en die transvaalse saffraan by ons watergat rondgewip.
Ongelukkig het hiënas die derde keer ons “bobbejaanbestande” vullisdrom getakel. Een keer is die meganisme so gebuig dat dit moes werkwinkel toe. Die tweede keer is die drom deur die magtige kake van ‘n vasbeslote skuinsrug skoon uit die ysterraam geruk. Buurman se werf was met plastiek en papiere bestrooi. Die derde keer was die nagtelike besoeker minder suksesvol. Die diep spore in die sand wys hoe hy (of sy) gespook het, maar die drom is net halfpad gelig.
Die hiënas is nie net deksels lastig nie. Hulle berokken ons ook groot skade. Die eerste agt vlakvarke in jare het pas in Sabiepark aangekom toe enetjie honger hiënas ten prooi val. Nog ene is onder die grensdraad deur Lisbon toe. Hy het seker maar ‘n ander honger gestil!
Van drie’s gepraat: die piesang waaraan die nagapies en bosnagape op Tarlehoet se stoep so lekker smul, is by Skukuza se toeristewinkel gekoop – teen R3 stuk. Ek kan die versekering gee dis nie ‘n goue piesang nie!
Comentários