Die taal wat kinders praat, verskaf aan ouers en grootouers groot pret. Veral ons grootouers is nie beskroomd om oulike sêgoed oor te vertel asof ons kleinkinders ‘n eksklusiewe talent het om met allerlei oorspronklikhede vorendag te kom.
Vergewe ons tog maar – die meeste van ons is nou eenmaal só gemaak en só laat staan dat ons na ons kleinkinders se doen en late deur ‘n sterk gekleurde bril kyk. (Dis maar dieselfde met die oor en weer spoggery met foto’s en die sogenaamde “brag”-boekies wat enige tyd en oral woeps uit ‘n handsak te voorskyn gebring word).
Party grootmense buit ongelukkig hierdie nuk van ons ouer garde uit deur allerlei “kinderhumor” uit die duim te suig, wat party van ons in goedertrou vir soetkoek opeet. Party verkneukel hulle daaraan.
Tydskrifte wat beter oordeel aan die dag behoort te lê, publiseer goedsmoeds beweerde “exaaimvlaters” en dies meer, waarvan die oorsprong werklik nie bo verdenking staan nie. Trouens, die feit dat grootmense dit uitgedink het, steek gewoonlik soos ‘n gerafelde onderrok uit.
As ek nie graag die indruk wil laat posvat dat ek my mes vir ‘n bepaalde publikasie in het nie, sou ek die naam genoem het van een – gemik op lesers wat waarskynlik nie van die naïefste onder die son is of durf wees nie – wat nou die dag beweerde uittreksels uit graad-vyf-kinders se geskiedenisvraestelle publiseer. Goeie aarde, wil iemand my vertel ‘n joernalis wat sy sout werd is, kyk nie dwarsdeur sulke kunsmatighede nie.
Shakespeare het “historektomies” geskryf; die “toekoek” is ‘n voël wat nie haar eie eiers kan lê nie, en sulke tipe twak. Kan jy nou meer! Dis mos ‘n gruwelike oorskatting van die arme leser se graad van liggelowigheid!
Dierbare, goeie mense blits dié klas lawwighede ook per SMS of e-pos na hul vriende sonder om na te dink of ‘n greintjie geloofwaardigheid in hul storietjies steek.
Die uwe het selfs al kennis geneem van ‘n “gebedjie” oor hoe die Here dan dinge moet regky vir Oupa se aanstaande verwisseling van sy aardse woning met sy eindtuiste. Here, neem tog kennis: Oupa hou hiervan, Oupa hou nie daarvan nie, en dies meer. As dit nie voor ‘n rekenaar uitgedink is ter wille van vermaak nie, is hierdie ou man onder ‘n kalkoen uitgebroei.
Hoekom hierdie dinge my ontstel? Hoekom steur ek dus my aan snert? Hoekom maak e-posse in daardie trant oop? Hoekom lees ek die kolomme wat daarop gemors word, soos in die ongenoemde tydskrif? Nee ek weet nie. “Small things amuse small minds,” sê die Engelse. “Elke diertjie het sy plesiertjie, se onms mense. ”
Hoekom laat ek die sulkes nie maar begaan nie?
Seker maar omdat ek ‘n masochis is, en ek die enigste verstandige reaksie – meerderwaardige verontagsaming – telkens eers onthou as dit te laat is, en ek my eers halfpad laat vang het.
Comentarios