top of page
Uitmelkbos

‘N DRAAI VAN 2 000 KILOMETER

Klink dit bra onwaarskynlik dat iemand aspris ‘n draai van 2 000 kilometer sal ry? Wel, ek en Tokkie het dit pas gedoen. Ons is van Nelspruit se lughawe Krugerwildtuin toe via Durban. Ons is na agt dae by die Wildtuin se Krokodilbrug in en by Krugerhek uit op pad Sabiepark toe.

Ons roete het ons twee keer deur Swaziland geneem. In daardie koninkrykie van koning Sobhuza noem hulle die beeste op en langs die pad Swazi-verkeersligte. Weet nie wat noem hulle die dwalende boerbokke nie! Een ding het ek geleer: Mbabane is nie meer sommerso ‘n dorpie nie. Dis ‘n Afrikstad. Teen 17:00 in pikdonkerte en in sagte reën moet jy jou storie ken om in die verkeerschaos ‘n botsing teen ‘n taxi of ‘n bus te vermy.

Die lekkerste omelet in ons lewens het die Van D’s egter in Swaziland se Ezulwini-vallei (Sogenaamde “Vallei van die Hemel”) op ons brekfisborde gekry. Mik maar gerus Mantenga Lodge toe – daardie omeletmaker bewys aan ‘n hoendereier ‘n eer.

Ons wou Durban gaan opsoek waar ek graag wou gaan kyk waar ek in die eerste jare van die 50’s gewoon het, op skool was en kerk toe gegaan het. Durban is ook die stad waar ek en Tokkie in 1966 op ons wittebrood was, en ons het gewonder of die Hotel Lonsdale nog bestaan.

Om by laasgenoemde te begin: ja, die Lonsdale bestaan nog, maar hy lyk maar oes. Dit lyk of ‘n “informele nedersetting” daar ontstaan het. Waar ons huis was, Botanic Grove 9, is nou ‘n kaal erf. By my eertydse skool, Port Natal, lyk alles piekfyn en netjies. Die pad na ons kerk, die NG gemeente Berea waar ou dominee Adler die leraar was, het my ongelukkig ontwyk. Ek weet ek was naby, want ons is by die Botaniese Tuine en die Greyville-renbaan verby.

Durban se strate is ‘n Afrika-ontdekkingsreis in die kleine. Sowat van naamsveranderinge slaan die arme besoeker met ‘n volslae lamheid. Gelukkig is die ou name behou (met rooi strepe deur), anders het ek sweerlik nou nog soos ‘n geblinddoekte daar koersloos rondgesteier.

Die laaste nag van ons wittebrood het ons destyds in Januarie 1967 in Sol se eerste hotel, die Beverley Hills op Umhlanga, deurgebring. Dit bly ‘n spogplek. Die Springbokke se bus was voor die deur, en die jong mammas wat Afrikaans praat in die foyer, het min twyfel gelaat wie daar tuis was. Maar die wyn! Peperduur is skaars die woord.

Op pad Durban toe en terug het die Van D’s ook ‘n paar ander ontdekkings gedoen (buiten nou die lekker omelet in Swaziland en die duur wyn in Umhlanga). Mtunzini is ongetwyfeld die mooiste klein dorp in die land, met sy herehuise, welige tropiese plantegroei en verskuilde piekniekplekkies langs ‘n skilderagtige strandmeer. Hluhluwe se Hilltop-kamp is ook prentjiemooi. St. Lucia, die hengelmekka, is ‘n lekker oornagplek.

Van Ballito het ons al baie gehoor. Ons eerste besoek is egter deur twee verdwaalslae ondermyn. Dis ‘n veel groter plek as wat ek verwag het, en dit kan nogal verwarrend raak as jy na spesifieke eetplekkies en dinge begin soek. Ons houthuisie op Dolphin-strand was nietemin eersteklas. Die naasliggende Waterberry-koffiehuis is van die allermooiste. Gaan eet gerus daar ‘n stukkie kaaskoek!

Sekerlik die onaansienlikste oornagplek was Matubatuba – al was ons kamer in die gastehuis Ukuthula self die ene Persiese matte en antieke meubels. Die keuse van daardie dorp was egter weens logistieke redes, en ook weens ‘n herinnering van meer as 40 jaar gelede toe die eerste Holiday Inn in Suid-Afrika daar geopen is. Persmense is van oral ingevlieg Johannesburg toe en daar op ‘n gedaan ou Constellatin gelaai vir ‘n bokspring-vlug na Mtaubatuba.

Die openingsparty was ‘n sogenaamde Romeinse “bacchinaal”. Ons was almal in lakens geklee, met plastiekkranse op die kop. Ons het op kussings op die vloer rondgele en op “bacchinale” skaal wyn uit goud geverfde wynglase verorber. Ek onthou Tokkie was vir my aanloklik, so in haar laken gedrapeer, maar ek het gesukkel om my Van Rijn 30’s uit my onderbroek op te diep as ek lus kry vir ‘n teugie – wat daardie tyd nogal dikwels was!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Commentaires


bottom of page