top of page
Uitmelkbos

‘N DEKADE VAN GRENSLOSE OUERLIEFDE

PIET, PETRO EN PIETA THERON BY TOKKIE VAN DEVENTER

Die hartsbegeerte om werklik met gevoel oor ander mense se wonderlike moed, geloof, opoffering, en toewyding te skryf, stuit soms teen die onvermoë om die regte woorde te vind.

Die resultaat is stamelende hulde, soos dié wat ek vandag aan Piet en Petro Theron van Bloemfontein wil bring nadat hul jongste seun, Pieta (38), Saterdag ná ‘n lang stryd in ‘n hospitaalbed in die Rosestad oorlede is.

‘n Doodgewone blindedermoperasie op Pieta het 10 jaar gelede weens mediese onbeholpenheid skeefgeloop. Die skuldige dokters moes ruim skadevergoeding betaal. Niks kon Pieta en sy ouers, Piet en Petro, egter vergoed vir die dekade van hel wat daarna vir hulle aangebreek het nie.

Pieta het ‘n ernstige epilepsielyer geword wat later n valhelm moes dra om hom teen kopbeserings te beskerm wanneer hy val. Tot veertien keer op ‘n dag het die stuiptrekkings hom gepak.

Hy het sy werk verloor, sy huwelik, sy kinders, mettertyd al hoe meer ook sy spraak en uiteindelik ook sy onafhanklikheid. Hy kon nie meer motor bestuur of in enige opsig die normale lewe van n man van sy jare lei nie. Pieta was skielik Piet en Petro se “groot baba”.

Piet, ‘n oud-kollega van my by Die Volksblad, het uit sy aftrede tot ekonomiese aktiwiteit teruggekeer deur eers Pieta se sweisonderneming sonder ervaring oor te neem. Vir die oud-joernalis – self n hartlyer – was die gee van kwotasies en geklouter op steiers met ‘n sweismasjien in sy hande ‘n wildvreemde nuwe lewe. Maar nood leer bid. Piet het op sy bulhond-manier vasgebyt en ‘n sukses daarvan gemaak.

Later het hy ‘n onderneming begin wat ter wille van sy seun meel in swart woonbuurte verkoop. Hy was, amper onvermydelik, in sy nuwe rol die slagoffer van Suid-Afrika se misdaadgolf toe ‘n gewapende roof op hom uitgevoer word. Hy het opnuut vasgebyt, en ook op hierdie terrein sy staal getoon.

Petro, wat ‘n knap sportvrou was op haar dag – gewig en werpskyf was die jong Petro du Plessis van Bethulie se kos – sit die laaste jare met ‘n rug wat haar sleg opkeil. Soos sy Pieta versorg het, is egter ‘n toonbeeld van opofferende moederliefde soos jy ver sal gaan soek. Rugoperasies of te nie, was sy altyd getrou op haar pos om Pieta op te tel waar hy op die grond lê en krul, hom te voer of wat vereis word.

Piet en Petro het Pieta se kinders onder hul vleuels geneem en op hulle ongekende liefde uitgestort. Oupa en Ouma was onwrikbaar dat hulle ‘n vol lewe moet lei. Hulle het daarvoor hul harte en beursies oopgemaak. Hulle het die kinders op uitstappies en vakansies geneem. Hulle het vir hul die beste geleenthede geskep.

Wanneer die twee deelneem, is Oupa en Ouma altyd by. Die dag nadat Petro die laaste keer na ‘n rugoperasieuit die hospitaal ontslaan is, bel ons Bloemfontein toe om te verneem hoe dit gaan. Toe hoor ons: sy’s by die netbalbaan waar haar kleindogter ‘n wedstryd speel!

In Maart 2007 was die Therons twee maande lank met Pieta in die Kaap, waar hy in die Constantiaberg-kliniek drie breinoperasies ondergaan het. Brein-chirurgie was die enigste hoop.

Hoe Piet en Petro hul kind daardie twee veeleisende maande ondersteun het, was ‘n openbaring. Elke dag was hulle van vroeg tot laat langs sy bed, ware voorbeelde van die geloof, hoop en liefde waartoe die Bybel ons oproep.

Spanning, onsekerheid, bekommernis – dié was daar ongetwyfeld in daardie tyd konstant oorgenoeg. Maar die Theronne was rotsvas, twee onwankelbare ankers vir Pieta en ‘n bron van besieling vir hul vriende.

In hierdie ruimte het ek daarna geskryf:

“Die goeie in mense aanvaar ons dikwels as vanselfsprekend. Dit word die norm waarvolgens almal almal oordeel. Laat iemand net nie aan ons verwagtinge voldoen nie – dan is ons gou om klippe te gooi.

“ Vir ‘n hele paar vriende ………. wil ek vandag dankie sê dat hulle my opnuut die goeie in mense laat raaksien het: hoe blymoedig, moedig, gelowig en opofferend mense kan wees; hoe hulle kan vasbyt en hulle in die tergendste omstandighede nie laat onderkry nie.”

Ek het natuurlik Piet en Petro in gedagte gehad.

Die gesinnetjie is blymoedig terug Bloemfontein toe – drie opgewonde en dankbare mense, want dit het gelyk of die operasies ‘n sukses was en of vir Pieta ‘n beter lewe kon voorlê.

Uiteindelik was die pad nog maar lank en steil. Die rehabilitasie het nie heeltemal verloop soos verwag is nie. Pieta was maar steeds in en uit die hospitaal. Van die begin van die jaar was die agteruitgang merkbaar, maar soos Petro deur haar trane opmerk: “Ek wou dit nie erken nie.” Sy is met hom van die een dokter na die ander.

Enkele dae gelede is Pieta weer na die hospitaal gehaas. ‘n Nood-pasaangeër het vir n kort rukkie die hoop laat opvlam. Toe pak die ontsteking hom met ‘n frontaanval. Saterdag bel sy broer Jannie met die treurige boodskap: “Pieta rus nou.”

Piet en Petro vind berusting in die wete dat Pieta nooit weer deur n epileptiese aanval teen die grond geslinger gaan word nie. Dat sy spraak nie nog verder en verder gaan agteruitgaan nie ….

Die huis sonder Pieta gaan skielik leeg wees. Hulle gaan hom verskriklik mis. Maar die Theronne is goed toegerus om ook hierdie beproewing te bowe te kom – dit weet hul vriende wat hul hantering van hierdie groot pyn in hul lewens bewonder, en bevoorreg was om hul ongelooflike toewyding van die laaste ttien jaar van naderby te beleef.

* Piet en Petro het nog twee seuns, Jannie van Pretoria na wie hierbo verwys is, en Dawie, die oudste, van Kimberley. Hy is die afrigter van Griekwas se rugbyspan.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page