top of page
  • Uitmelkbos

‘N DAG IN DIE BOS


‘n Gekroonde neushoring by ons stoep en olifante by Sabiepark se piekniekplek.


Word die wild minder?  Om Wildtuinvure is dit altyd ‘n gewilde onderwerp, veral ná ‘n frustrerende dag met lang ente wat bloedmin oplewer.  Verskeie stillerige dae in die Kruger laat die uwe dalk deesdae sterker saampraat as voorheen.

In Sabiepark hoef ons nie oor die hoeveelheid wild te raai nie. Ons weet dit is heelwat minder weens ‘n uitdunningsprogram weens ekologiese redes. Die veld moet kans kry om te herstel. Vlakvarkies swig ook toenemend voor die “predasiedruk”, soos ‘n vorige parkhoof luiperd-aktiwiteite genoem het.

Wanneer die ervaring van “minder wild” jou begin vang, kan ‘n inventaris dalk perspektief bring. Soos gister.

Ons is die oggend kerk toe. Op pad kry ons vyf kameelperde (op ‘n bondel), drie hiënas saam in ‘n leegtetjie langs die pad, ‘n plaat rooibokkies glansend in die oggendson en ‘n hand vol bosbokkies.    Na kerk was daar sebras, koedoes, vlakvarke en nog ‘n boskbokkie.

Toe is ons Sabiepark se piekniekplek toe. George en Dorette Louw van die Kaap, hul seun Mark en sy Skotse vrou, Samantha, het kom kuier. Ook laasgenoemde twee se oulike meisiekinders van vyf en vier onderskeidelik. Tokkie maak vir ons frikkadelbroodjies.

Ons het net aangeland toe ‘n trop rooibokkies oorkant die rivier skielik laat spaander. Later het ons verneem ‘n luiperd het enetjie Vrydagmiddag presies daar platgetrek.  Dalk was dit weer hy tussen die riete?   Toe kom die olifante: een, twee, drie  groepe, elk tussen vyf en twaalf in getal.  Ook ‘n babatjie of twee. Hulle drink, waad deur die Sabierivier Sabiepark se kant toe en poseer omtrent vir die opgewonde besoekers.

Vier kameelperde  slenter nader. Twee buffels roer in die lang gras.  Bosbokkies wei in die koelte.

In ‘n koraalblom wat rooi begin blom, geniet drie soorte suikerbekkies hul gate uit:  die kortbek, witpens en rooikeel.

Ons gaan eet vrugteslaai by ons huis, Tarlehoet. Vier gekroonde neushorings (nie te verwar met die gewone, volopper geelbekke en rooibekke nie) kom sit rustig in die haak-en-steek en die maroelaboom teenaan die stoep.  Die aand kom die nagapies in ‘n stroom, tot drie tegelyk in die pendoringboom by die swembadjie.

Geen leeu nie, geen luiperd nie, geen renoster nie, ek weet.  Maar darem twee van die Vyf Grotes. ‘n Lekker verskeidenheid in enige taal. Olifant-verkeer soos min. Genoeg spesiale oomblikke om vir ‘n genoeglike dag in die bos te sorg.

Toe ek die inventaris begin maak, besef ek opnuut hoe ‘n voorreg dit is om die natuur so te kan geniet. ‘n Mens moenie te lekkerbekkig raak nie.

#Sabiepark #tarlehoet #uitmelkbos #vandeventers

1 view

Recent Posts

See All

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page