Chaos, of Op soek na Superman, deur Hans Pienaar. Resensie: Jaco Nel (Boeke24) ‘n Resensie wat mens nie uitnooi om die boek te gaan lees nie. Nel skryf nie die boek af nie, trouens, dit lyk of hy sy bes probeer om dit ten minste interessant te laat klink. Maar uiteindelik erken hy dat die boek hom koudgelaat het, wat seker nie is wat Hans Pienaar sou wou gehoor het nie. Kompleksiteit in takt? Nooit gesien nie. Mens wil nogtans liggies giggel oor Nel se teregwysing aan Pienaar dat wanneer mens oor chaos wil skryf, jy struktuur moet hê. Anders bly dit ‘n chaos.
Vuilspel, deur Bettina Wyngaard. Resensie: Marida Fitzpatrick (Boeke24) Verlede week in Rapport Boeke het Annemarié van Niekerk hierdie roman ‘n goeie gemiddelde speurroman gevind. Met voorskryf-potensiaal. Marida Fitzpatrick het die roman meer krities benader, en die besware wat sy daarteen opper, verleen onmiddelik baie gesag aan haar besluit dat die aktuele tema hierdie roman nie kan red nie. Uiteraard maak hierdie meningsverskil dat mens voel jy wil ten minste gaan snuffel in hierdie roman om agter te kom watter resensent is naaste aan die waarheid. Die geneuk is net dat Fitzpatrick se sterk betoog my nou al laat vermoed dat teleurstelling op my wag.
Comments