top of page
  • Uitmelkbos

‘N BRIEFIE VIR LINDIWE


GROOT FOTO: Bill Swing in geselskap van Theunie Steyn en Louis Botha by my 50ste.

KLEIN FOTO: Bill en HvD (kyk ma, geen grys hare!)

Waar in die wye wêreld bevind William Lacy Swing hom?

As diplomaat het hierdie oud-ambassadeur van die VSA in Suid-Afrika heelwat stof op sy skoene versamel. Ek het aanvanklik kontak gehou danksy kettingbriefies van hom en sy Oosterse vrou, Yuen, en ook sy periodieke TV-verskynings. Hy het sy land nogal op ‘n paar brandpunte verteenwoordig.

Toe word hy direkteur-generaal van die internasionale immigrasie-organisasie of so iets … en weg is hy.

William Swing, of Bill Swing, soos ek hom geken het, is op my agenda nadat Tokkie my gister herinner het hoe vinnig hy ‘n Afrikaanse toesprakie leer afsteek het. Hy was twee maande in die land toe kon hy met vertroue opstaan en kortliks iets van betekenis in dié vreemde taal kwytraak. Selfs die “g’s” had hy taamlik goed onder die knie.

Bill is die lewende bewys van as jy wil, kan jy – of as daar ‘n wil is, is ‘n weg. Hy het eenvoudig vasgebyt, Afrikaans-klas geloop en nie gehuiwer om oefen-oefen in die openbaar sy weg te vind nie. By my 50ste verjaardag op 3 Januarie 1991 in Bloemfontein het hy opgedaag met ‘n pikante Afrikaanse toesprakie in sy binnesak.

Ek wou daardie notas uitkrap – moet iewers tussen my dokumente wees – en hier publiseer, maar Tokkie sê: “O gonna, sal klink soos jakkals prys sy eie stert” Glo my dus maar dat sy Afrikaans “pikant” was.

Dat die WIL die goot voorvereiste is om ‘n taalstruikelblok te oorkom, bewys ook verskeie ander mense. Een wat ek ook met waardering onthou, is my NG dominee, Tienie Zeeman, in Berg-en-Dal, Bloemfontein. Toe ‘n Engelse Andrew Murray-gemeente uit Berg-en-Dal tot stand kom, het hy hom hart en siel daarin gewerp om ‘n behoorlike preek in Engels te kan lewer. Hy’t gou geklink soos ‘n gebore Engelsman wat die Woord bring!

Maar vandag skryf ek oor Bill Swing wat ek graag as voorbeeld voorhou vir me Lindiwe Mazibuko, aspirant-DA-leier in die Parlement, in wie se politieke repertoire my taal, Afrikaans, in sy afwesigheid skitter, en vir diegene wat reken: “Solank sy ‘n goeie ‘job’ doen, is dit ook maar ‘orraait’”.

Bill Swing se filosofie was dat hy respek wil betoon aan die sterk Afrikaanse komponent in die land (en daardie tyd natuurlik in die Regering), maar ook dat hy nie onbegrypend en met ‘n mond vol tande in Afrikaanse geselskap wil beland nie. Daarmee het hy my ewige respek verower.

Me. Lindiwe behoort daardie respek-behoefte aan te voel. Politici wat wil stemwerwers wees, moet sensitief wees oor die harte van die mense wat hulle onder andere wil lei. Lindiwe sal my bedenkinge onder die stof loop as sy sou opstaan en rondborstig verklaar (al is dit voorlopig in Engels): “Ek wil ook Afrikaanse mense se DA-leier in die Parlement wees, en ek gaan my inspan om die taal te praat. Gee my drie maande, ses maande …” Dit sou toon van watter staal sy gemaak is.

Maar Bill: ons paaie het gekruis toe ek in 1977 in Amerika was. Hy was ‘n Kennedy Fellow aan Harvard en ek ‘n Nieman Fellow. Toe ek sy naam in die koerante sien as nuwe ambassadeur van Amerika het dit by my ‘n klokkie gelui. Ek het spreekwoordelik die ambassade se voordeurklokkie gaan lui. “Goeie more, Hennie,” het hy my gegroet, nog skeef en krom maar sonder skroom.

Hy was in Suid-Afrika van 1989 tot 1992. In daardie tyd is hy met die oulike Chinese buksie Yuen getroud – op ‘n wonderskone herfsoggend in die tuine van die ambassade in Bishopscourt – en ek en Tokkie was gelukkig genoeg om genooi te word.

Soos gesê, het hy met my 50ste in sy motor geklim en van Pretoria Bloemfontein toe gery. Ons twee het ge-“kliek”, soos hulle sê.

Daarna is hy na Nigerië (1992-93), Haiti (1993-98), and Kongo-Kinshasa (1998-2001). Hy was ook die VN se spesiale verteenwoordiger in die westelike Sahara en Kongo-Kinshasa. Die ketting-briefies (uit Yuen se pen hoofsaaklik) het later drupsgewyse begin kom en toe opgedroog. Maar ek het Bill nog van tyd tot tyd op TV gesien – net so ‘n afgeronde heer soos daardie oggend voor die buitelug-kansel in Bishopscourt. Al bars die bomme, kon jy hom deur ‘n ring trek, die rustigheid vanself en ‘n formuleerder van formaat.

Ek mis Bill skielik sommer baie. Sal dit nie wonderlik wees as hierdie onverwags op sy lessenaar beland waar hy ook al gesetel is nie (as hy diep in die sewentig nog agter ‘n lessenaar iewers is). Dan moet hy tog maar liefdegroete vir Yuen sê asseblief, en – as dit moontlik is, ‘n briefie van aanmoediging vir Lindiwe in die pos gooi. Sê vir die jong vrou sy moet skouer aan die wiel sit met die taal, toe Bill!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page