Vos Grey was onoortuig dat ‘n “vinnige” breek padkafee toe vir ‘n middernaghappie dringend is. Hy moet die volgende oggend ‘n belangrike eksamen skryf. Ons minder akademie-geörienteerdes het aan hom bly torring. Nou-ja …. Ons is vort op voorwaarde van ons sterte roer. Toe gaan staan die Santa Maria, my blou Peugeot 203, sonder brandstof. Dit was 1961, die jaar dat hy die BSc (Agric)-graad verwerf het. Later het die M- en die D-graad bygekom.
Vos se akademiese loopbaan wys dat rede tot kommer nie eintlik bestaan het nie daardie paar uur sonder petrol, terwyl ons lughartig in die Santa wag dat ”hulp opdaag”, op advies van Pierre le Roux. Hy het sy werk geken. Maar Vos was een van daardie ernstige studente, die toonbeeld van ysere dissipline.
Vos het polio as kind gehad en met ‘n oog-gebrek gesukkel. Dit is daardie staal wat hom só laat uitstyg het. Hy was drie keer huisvoorsitter van ons koshuis, Kollege, op die Tukkie-proefplaas, was ons koshuis se rugbykaptein, was studenteraadslid, en wat nog.
Nou is dit 50 jaar later. Maar dis presies dieselfde Vos Grey wat op 72 steeds vyfuur die middag op die JanVos-landgoed in die distrik Ermelo op sy horlosie kyk en pligsgetrou vir sy gaste uit Melkbos sê: “Verskoon my, ek moet gaan toesluit.” Of sewe-uur soggens: “Verskoon my, ek moet gaan oopsluit.” Dié voorslag-boer bestuur met ‘n vaste hand, volkome in beheer van homself en van sy verantwoordelikhede.
Natuurlik bly die resultate – en die akkolades – ná 30 jaar se sweet nie uit nie. Vos en sy knap seun, Jan, se Holsteins, vleismerino’s, uitvoer-appels, mielies, sojas en wat nog is van die allerbeste. Elk keer as jy op die Grey-grond kom, het nog ‘n nuwe struktuur verrys, lyk dit. Die opstal is soos ‘n jong dorpie. In Vos se studeerkamer met die mooi dolfshoutkaste is altyd nuwe sertifikate en bekers: Boer van die Jaar in Transvaal, meester-suiwelboer (noordelike streek), teler van die kampioen-wolooi (Suid-Afrikaanse vleismerino’s). Jan – die finansiële bestuurder – staan nie agter nie: hy was self al Jongboer van die Jaar van die Noordelike streek.
Vos, die immer nederige, dring daarop aan dat Jan se groot bydrae raakgesien word – en dié van Vos se vrou, Magdaleen, wat na personeelsake omsien. Die Greys trek as span. Deesdae woon Vos se dogter, Carin, ‘n onderwyseres, en haar gesin ook op die plaas. Die kleinkinders is die appels van Vos se oog – meer nog as die sappige Pink Lady’s wat in Londen se voorste koswinkels op die rak is.
Vos ploeg sy kundigheid en bekwaamheid ook elders as net sy eie uitgebreide boerderybelange in: as voorsitter van Clover (my skoonseun, Brent, van Parmalat sal sê ek heul met die vyand!), lid van die Melkraad, visevoorsitter van die Suiwelraad, lid van die algemene raad van die Suid-Afrikaanse Landbou-unie, ens. Maar, vernaam of nie, hy bly die lekker (ondeunde) studentemaat. Agter die stoetramme se stal steek hy ‘n skelm sigaretjie aan … Hoop maar Magdaleen gaan nie in vir blogs lees nie!
Kyk, ek weet van boerdery niks. As leek tref vier dinge my egter besonderlik van daardie indrukwekkende JanVos-boerdery: die wetenskaplikheid, die netheid, die georganiseerdheid en die liefde vir die diere. Die melkstal is ‘n ingenieurs-prestasie. Vos se KI-praatjies laat geen twyfel nie dat hy ‘n voorste kenner op die gebied is. Van elke ding wat gebeur of nie gebeur nie, weet hy. En sy diere laat sy oë vonkel. Hy sorg dat hy elke dag tussen sy Holsteins of sy merino’s kwaliteitstyd deurbring.
Tokkie se oë vonkel insgelyks as sy saam met Vos van hierdie stal tot daardie kraal tot daardie kamp wip. Haar hart gaan veral uit na die bulletjies wat in die JanVos-opset nie hoog aangeslaan word nie. As ek sien hoe in haar element sy is, wonder ek: twyfel sy soms of sy vir al die Bultfonteinse boertjies wat kom vlerksleep het, die deur moet gewys het ter wille van ‘n joernalissie!
コメント