top of page
  • Uitmelkbos

‘N BOEKIE VIR BARBI


Barbi in vrolike luim by ‘n Probuskuier op 20 September 2011

Nou kap hulle in ons bos, sê ons 70-plussers gereeld vir mekaar. Nou kap hulle in ons ry, hoor ek deesdae meermale by porture.

Oor dié kappery het ek in 2009 ‘n boek geskryf, Byl in my bos. ‘n Mens ontdek skielik amper met ‘n skok hoe oop dit om jou raak, skryf ek daarin.

Die gevoel van verlies wat jou beetpak, word in my boek genoem; spyt oor verhoudings wat afgekap is; belowende vriendskappe wat onvoldoende ontwikkel is, gesprekke wat in die lug bly hang het. “Verwyte knaag oor versuim, onnadenkendheid, ‘n versoenende woord wat nie betyds gespreek is nie, of ‘n verskoning wat agterweë gebly het.”

Tot so ver Byl in my bos.

Hierdie week is hier op Melkbos inderdaad in ons ry gekap. ‘n Dierbare vriendin, Barbi Maree, eggenote van Jacko, bekende oud-LV, is binne ‘n maand van ‘n aktiewe, lewenslustige vrou tot ‘n sterwende gereduseer. Haar longe was onstuitbaar aangetas.

Ook in die geval van die liewe Barbi bestaan die addisionele hartseer van ‘n onafgehandelde taak.

‘n “Boekie vir Barbi” is die laaste dae in liefde saamgestel met goeie wense uit die hart van vriende in Probusverband op Melkbos. Probus is ‘n klub vir afgetredenes. Ons, die lede, vorm ‘n hegte vriendekring.

Tokkie was aan die spits van die operasie met die boekie. Elke Probusgesin het entoesiasties meegewerk. In boodskappies op vrolike, veelkleurige papier is getuig van haar vriende se diepe waardering en liefde, hul bewondering vir haar dapperheid en hul diepe hartsbegeerte vir nog goeie tye saam.

Jy kan lees van Barbi, die wonderlike gasvrou, haar sprankeling en sonnige glimlag, haar bekoorlike Duitse aksent, haar welsprekendheid en wat nog. Daar sou ook getuig kon word oor haar belesenheid, intense belangstelling en sterk insigte oor sake van die dag, warm hart vir mense wat swaarkry, ens.

Nietemin, Tokkie wat die boodskappies versamel en in ‘n vertoonlêer laat bind het, bel gisteroggend vir Jacko om te reël vir die oorhandiging. Sy bel omstreeks 10:15. Jacko tel op en deel die sombere nuus mee: Barbi is om 10:00 oorlede.

Die liefdesblyk van Barbi se vriende was, helaas, te laat. Die boekie gaan nou maar na Jacko: hopelik sal dit in sy sware verlies ook vir hom iets beteken.

Selfverwyt oor die tydsberekening kan nie juis bestaan nie. Met die uitvoering is nie gesloer nadat die idée Tokkie te binne geskiet het nie. Almal het onmiddellik gereageer. Feit is net: almal het geweet Barbi is uiters siek, maar niemand het naastenby verwag die dood is só voor die deur dat dit selfs dié projekkie gaan voorspring nie. Soos só dikwels gebeur.

Die dood kom soos ‘n dief in die nag, lees ons in die Bybel.

Natuurlik sien ek vir myself ‘n les in hierdie stukkie geskiedenis van Barbi se boekie opgesluit. Ek meen daar is vir almal lesse. Dis seker maar vir elkeen om te bepeins wat presies daardie les in sy of haar eie omstandighede is.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page