top of page
  • Uitmelkbos

‘N BOEKIE VIR (AMPER) 80

Op 3 Januarie 2021 – ‘n bietjie meer as twee maande – word ek 80. Ietwat prematuur of nie, maak ek dit die onderwerp van vandag se blog. Hoekom, sal mettertyd duidelik word, hoop ek.

In die (amper) 80 jaar staan verskeie hoofelemente uit. Almal wat my ken, sal kan raai watter dit is. Buiten my naastes, is daar onder meer (plus-minus chronologies) Potch-Volkies, Kollege-tehuis, Tukkies, Harvard, Bloemfontein, Randburg, Sabiepark, die Krugerwildtuin, Melkbos en skeepvaarte, waaraan ek in die later jare verslaaf geraak het.

Van al die dimensies is my koerantverbintenis ongetwyfeld die onuitwisbaarste. Niks identifiseer my in dieselfde mate nie, glo ek, al het 24 jaar verloop sedert ek my kantoordeur aan die Heerengracht die laaste keer agter my toegetrek het.

Middel 2020 sou die noodlot egter ingryp. Media24 kondig ‘n ingrypende nuwe bedeling vir sy drukmedia aan. Ook Volksblad se ink droog op. Sy lewe as papierkoerant ruk ná 116 vrugbare jare tot stilstand.

Vir geen oomblik sou ek ooit kon droom dat hierdie trotse koerantgewel uit die hoofstroom sou verdwyn voordat ek die 80-baken bereik nie.

Die afskaling van my geliefde koerant waar ek 12 jaar redakteur was, was nie net volslae onverwags nie. Dit was ook ontugterend en ‘n moeilik verteerbare skok – ‘n sware verlies.

Vir my 80ste verskyn ‘n gedenkboekie met die titel “Koerant”. Dit is ‘n selfpublikasie met ‘n beperkte oplaag, versorg deur Coenie Nolte se De Novoboeke. In die boekie is die rou oor Volksblad se lot nog vars. Ek probeer nie my hartseer verbloem nie. Dit bied trouens die kapstok vir die boek.

Die rou is egter maar net die vlammetjie wat ‘n groter vuur aansteek. In ‘n stuk of 50 essays skryf ek darem nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekotes is opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor ander koerante en die koerantwese in die algemeen.

Noem ‘n aspek van my loopbaan – iewers steek dit kop uit. Moet dus nie verras wees nie as selfs onverwagte name soos Dallas, Anneline Kriel en Racheltjie de Beer in die bladsye van Koerant opduik.

Onder die jongste nuuswaardighede in my boekie is die roemlose aftog van die uitgewery Tafelberg rakende die snertboek oor “die seuns van Bird Island” en sy gruwelike beswaddering van eerbare leiers in die vorige bedeling. Van die aanvanklike onboetvaardigheid uit daardie oord het niks oorgebly nie.

Die sage was ‘n stukkie pynlike Persgeskiedenis waaroor ek my uit die staanspoor nie onbetuig gelaat het nie. Oor ‘n tydperk het ek agt koerantbriewe daaroor geskryf in Rapport, Die Burger, Beeld en Volksblad.

Dat my radar nie verkeerd was nie, is vir my hier aan die vooraand van my 80ste ‘n bron van vreugde. Ek draai daaroor nie doekies om nie. Nie almal wat die boekie onder oë kry, sal daardie hoofstuk met welgevalle lees nie – en dalk enkele van die ander hoofstukke ook nie. Ek maak nie ‘n moordkuil van my hart nie.

Die boekie verskyn in gedrukte formaat vir naaste familie, vriende en kollegas. Vir die grootste gros ontvangers bied ek dit as e-boek aan. Die skakel sal binnekort aan hulle bekend gemaak word.

Die aflewering is ietwat prematuur. Dit is met die oog op die einde-van-die-jaar-gewoel aan vele fronte. Dit is nog te meer die geval om my Volksblad-storie te vertel terwyl dit nog relatief vars is.

Aan al die lesers: lees die boek en klink saam ‘n glasie op 80 vervullende jare.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page