top of page
  • Uitmelkbos

‘N BELHAR-SCENARIO

EEN somber scenario vir Belhar, veral ook weer ná die lees van die insiggewende “Belhar Geweeg” (Piet Theron et al, Kraal-uitgewers, 2012), is in my oë dat die hobbelrige paadjie van daardie verdelende VGK-dokument soos volg kan voortkronkel:

 1.  Die Belhardrywers draai die skroef uit die hoogste kerklike gestoeltes in die NGK al hoe stywer. Morele manipulasie van gemeentelede en intimidasie van andersdenkende predikante neem toe op grond van die tese (a) dat aanvaarding van Belhar as belydenisskrif die “regte ding” is om te doen (steeds sonder om daardie aanspraak teologies te motiveer); (b) dat dit is wat “Jesus wil hê” en (c) dat dit die “enigste weg is wat die Heilige Gees vir ons aandui” (terwyl die vraag onbeantwoord in die lug bly hang of die Gees dan nie ook die derduisende lidmate lei wat nie kans sien vir  Belhar as belydenisskrif nie – waaronder, betekenisvol, selfs die Christian Reformed Church of North America, een van die drie grotes in die eertydse Gereformeerde Ekumeniese Raad).  

2.   Van ‘n oop debat tot op die voorgeskrewe gemeentevlak kom min tereg en by meerdere kerkvergaderings word die Kerkorde suutjies diep weggebêre. Onder aanvoering van ‘n begeesterde leierskorps moker die NGK Belhar op vindingryke maniere deur sodat dit die skyn van ‘n kerkordelike proses en omvattende steun verkry.   Toejuiging klink op uit geledere van die VGKSA, politici en die media oor die NGK wat op lange laas “apartheid die rug toegekeer het”. 

3. Die NGK in huidige gedaante word met enkele pennestrepe uitgewis. ‘n Nuwe “Verenigde Kerk” kom tussen die pro-Belharfaksie van die NGK en die VGKSA tot stand – die ideaal van ‘n  “nuwe kerverband” onder ‘n nuwe naam en met ‘n uitgebreide belydenisgrondslag wat Belhar insluit, raak verwesenlik.  

4. Die waarheid begin stadigaan – maar, helaas, te laat – deurdring dat die stoomroller-taktiek ‘n dure prys verg.  Ongelukkigheid by van lidmate wat Belhar op beginselgronde verwerp, bring krake in selfs die hegste gemeentes.  Verbrokkeling kry momentum soos die besef posvat dat die Gereformeerde karakter van die kerk daarmee heen is en die hek vir allerhande vreemde teologieë wawyd oopgeraak het.

 5. Strukturele veranderings raak al hoe sigbaarder in die “nuwe kerk”. Vreemdhede sluip in die liturgie en karakter van die erediens en in die medium van Woordverkondiging in. In die “nuwe kerk” word Afrikaans maar een van die tale waarin gepreek word, soos in sovele VGKSA-gemeentes (die letterlike spreek in vreemde tale!). Bates soos pastorieë en kerkgeboue word herverdeel. Gewysigde salaris- en pensioenpatrone word van sinodale vlak afgedwing.

 6. Geldelike nood in die Kerk word steeds nypender en dwingender.  Samesmelting van gemeentes ter wille van oorlewing lei tot die aflegging van dominees en die sluiting van kerkdeure, veral op die platteland. Die beskikbare vel (in opsigte ‘n krimpende vel!) moet noodwendig in al hoe dunner en dunner riempies gesny word terwyl die VGKSA voortgaan om ‘n ambisieuse konferensiesentrum in Kempton Park te bou.  ‘n Enorme skuldlas stapel vir die “nuwe kerk” op.

 7. Die NGKA (“swart” kerk) en die RCA (“Indiërkerk”), reeds lank in die koue terwyl die leierskorpse van die NGK en die VGKA in geslote afsondering hul toenaderings gestalte begin gee het, word volledig uit die intieme nuwe binnekring gesluit. Alle sprake van ‘n omvattende “hereniging” van al die spruite van die ou NG Kerk (die sogenaamde “dogterkerke”) vlieg by die venster uit.

 8. Die NHK en GKSA staan, weens uiteenlopende belydenis-grondslae en bedenkinge oor die teologiese integriteit van Belhar, vinnig opsy van die Verenigde Kerk.  Drome van ‘n sterker eenheidsbeweging en uiteindelike byeenbring onder een dak van basies eendersdenkende Gereformeerd-gesindes wat dieselfde taal, geskiedenis en kultuur deel – trouens, die hele begrip van Afrikaanse susterkerke –  raak iets van die verlede. 

9. Die eindresultaat in praktyk is al hoe minder van die “eenheid” wat nagestreef is. Toenemende kerklike verbrokkeling en verstrooiing bring klowe tusssen broer en broer. Van onderlinge ongemaklikheid tot bitterheid in eie geledere groei. 

 10.  Kerkloosheid, kerklosheid of, ten beste, die opspring van allerlei paddastoelkerkies en/of die ontstaan van intieme selgemeentes neem hand oor hand toe. Suid-Afrika versink in die algemeen al hoe dieper in die maalstroom van sekularisering. 

 (Naskrif:  Al is dit natuurlik absolute wensdenkery: kon die gewetens van elkeen wat oor Belhar ‘n besluit moet neem, hulle tog maar dwing om  genoemde Belharboek aandagtig te lees! Dit geld in die besonder leraars met die verantwoordelikheid om hul kuddes die regte pastorale leiding te gee. Vir eers sou ‘n vollediger en korrekter ingeligtheid by ‘n breër korps kerkmense so tot stand kom.  Ten tweede, dalk beter begrip vir die strydvrae in die gemoed van ‘n groot gros lidmate. Ten derde – des te meer wensdenkery? – hopelik selfs nadenke by sleutelmense by wie nadenke nie onvanpas sou wees nie.)

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page