‘n Baard het sy vurige bewonderaars. Ewe vurige teenstanders beskou dit as ‘n boskasie wat hulle laat gril.
Versinnebeeld ‘n baard manlikheid, gedistingeerdheid, waardigheid, viriliteit, gesag en status, of dui dit op ‘n verslonste willewragtig met ‘n aversie vir seep en water?
Ek sal nie ‘n algemene uitspraak waag nie. Jy kry baarde en baarde. Die rol van ‘n baard in ‘n man se beeld moet jy egter nie gering skat nie. In sekere tydvakke was yslike baarde bepaald die in-ding.
Toe ek ‘n seuntjie was, was mans in my Oupa Visser se generasie sonder uitsondering bebaard, soos die Paul Krugers, Christiaan de Wets en Koos de la Reys voor hulle. ‘n Boer dra ‘n baard en basta. So was dit destyds.
D.J. Opperman het selfs oor die verskynsel gedig:
“God het mos in die storm
ons volk se leiers tussen klip en blits
met baarde, Bybel en sambok gevorm …”
By groot feeste wat Afrikanerharte laat warm klop het, is fluks baarde gekweek, soos met die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 en die Republiekfees in 1961. Selfs die ouens met sagte wangetjies het dapper probeer om hul donsies na iets te laat lyk.
Baarde is egter nie kenmerkend van net “ons volk” nie. Dis internasionaal. ‘n Wêreldkampioenskap word selfs tweejaarliks gehou, en van die baarde waarmee op daardie verhoog gespog word, is waarlik indrukwekkend (of grotesk, as jy nie van ‘n baard hou nie). Vanjaar se kampioenskap is, terloops, iewers in Noorweë, het ek in ‘n koerant raakgelees.
Baarde het ‘n eeue-oue geskiedenis. Gaan blaai gerus weer deur die KinderBybel. Hoeveel gladde wange merk jy op? In die geskiedenis is mooi baardestories soos dat die Spartane lafaards in hul tyd gestraf het deur ‘n hap uit hul baarde te knip.
Later eras het beroemde baard-draers soos William Shakespeare, Leonardo da Vinci, Mohammed, Abraham Lincoln, Ernest Hemingway, Vincent Van Gogh, Karl Marx, George Bernard Shaw en die Engelse krieketspeler W.G. Grace opgelewer.
Maar ek moet erken my lysie skiet te kort, soos my eie baard wat ek met ‘n vakansie in Sabiepark in die 90’s laat groei het, ietwat te kort geskiet het.
Daardie baard was die resultaat van luiheid om te skeer. Die grys kroesies was egter erg jeukerig in my kiewe. Boonop was die ooreenkoms met ‘n bepaalde politikus van so ‘n aard dat my vriend Pierre van Manen gereageer het met: “As jy ‘n perd het, het ek vir jou ‘n groen onderbroek”. Ek het taamlik vinnig van die groeisel ontslae geraak.
De Engelse wat uitmunt met groot woorde vir klein dingetjies, noem die studie van baarde “pogonology”, na aanleiding van die Griekse word vir baard, “pogon”.
‘n Beperkte, eietydse studie van die “pogonologie” het mense in my gedagtes laat opkom soos Kersvader, “Kolonel” Sanders van Kentucky Fried Chicken-faam, tuindwergies, Fidel Castro, Osama bin Laden en …. Hashim Amla.
En die foto hierbo? Dis bepaald eietyds. Dit kom van die omslag van die begrafnisbrief van my neef Bertus du Plessis, wat my en Tokkie op 31 Desember 1966 in die eg verbind het (lees my blog van 30 Januarie).
Bertus is onlangs op Potchefstroom begrawe in ‘n kis waarom die Transvaalse Vierkleur gedrapeer was. Chris Blignaut se “O Ryperd” (later deur Dozi ietwat gemoderniseer) het in die agtergrond opgeklink, hoor ek.
Daarop lewer ek geen kommentaar nie. Oor daardie vloeiende wit baard van my neef Bertus kan ek my egter nie bedwing nie. “Maggies,” wil ek uitroep. Dis ‘n baard wat ‘n mens tot eerbiedigheid stem of jy nou ‘n Vierkleur-mens, ‘n “O Ryperd”-mens en ‘n baard-mens is of nie ‘n Vierkleur-mens, ‘n “O Ryperd”-mens en ‘n baard-mens nie. Of hoe?
Bình luận