top of page
Uitmelkbos

‘N AREND VAN ANDERSTER VERE


Luislangarend? Sê net weer!


Nee, natuurlik sal jy hom nie in ‘n Roberts- of Newmansvoëlgids of enige ander voëlgids kry nie vir die eenvoudige rede dat so ‘n arend nie bestaan nie.


Tog het ek oor ene geskryf. Doodernstig. In enkele blogge terug rapporteer ek oor ene wat ons tussen die Krugerhek en Skukuza raakgeloop het waar hy doodluiters op die teerpad aan ‘n lekker dik murgbeen weglê.


“Wat vir n ding is ‘n luislangarend?”, konfronteer mev. Van Deventer my daarna.


“Nog nooit van een gehoor nie.”


“Nou hoekom skryf jy dan van ene?”


Toe ek verbaas gaan naslaan, moet ek haar gelyk gee. “Luislangarend” staan dit in daardie blog swart op wit. Ek kon slange vang oor daardie “ligte mistykie”…


Vir daardie “vlug” van die verbeelding as ‘t ware kan ek nie juis ‘n verduideliking aanbied nie. ‘n “Senior oomblik”, sal party sê. Ek verkies om van “senior oomblikke” eerder in terme van oomblikke van oumens-brijantheid te dink. Maar dis ‘n ander storie…


Dalk was my verstand net ietwat “lui”.


My “luislangarend” is die ene op die foto. Dit lyk vir my (en Tokkie) soos ‘n bruinslangarend. Kyk die geel bene sonder vere. Maar dit kan dalk ook ‘n swartslangarend wees. Arende is vir die leek maar ‘n verwarrende spesie. (Net die vorstelike breëkop en die visarend is onmiskenbaar!)


Nietemin, askies vir die wals. Bruinslangarend is dit waarskynlik, swartslangarend moontlik, luislangarend hoegenaamd nie!


2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page