top of page
  • Izak de Vries

’n Antwoord aan Boerseun

Boerseun het nogal ’n interessante uitdaging voor my deur gelê – oor Zuma en kie. Hier is dit:

So is dit in Afrika. Die magshebbers maak soos dit hulle smaak en Zuma bewys dit net weer eens. Nou dat jy klaar gekla het sal ek graag wil hoor hoe jy ’n oplossing sien vir alles. Duidelik werk die huidige plan g’n stuk niks nie.

Ek antwoord graag: Die enigste oplossing gaan wees as die SA Kommuniste Party en Cosatu wegbreek uit die onheilige alliansie. Net soos die Nasionaliste gedink het hulle is onstuitbaar, so dink die ANC hulle is onstuitbaar. (Ek skuld Murphy nog ’n blog oor die NP se gedenkboek – ek het nie vergeet nie, Murphy!)

Die Nasionale Party het ’n vet middelvinger vir die wêreld gewys, Zuma en die ANC doen dit ook – hoewel in ’n mindere mate.

Die probleem is dat die ANC op hierdie stadium weet hulle kan nie verloor nie; dit maak nie saak hoeveel kinders Zuma nog gaan maak nie, of hoeveel nonsens Julius Malema nog gaan praat nie ...

Kyk wat het in die vorige verkiesing gebeur: Cope is gestig en die DA het gegroei. Die ANC het egter feitlik dieselfde hoeveelheid stemme gekry, want die massas het Zuma gestem. Die verloorders? Die IFP, die ID, die FF+ en die ACDP.

So, ja, Boerseun, net soos Verwoerd, Vorster en Botha kon “maak soos hulle smaak” (jou woorde), so sit Zuma en Julius Malema heerlik en lag. Net soos die NP se stemme uit blinde lojaliteit na hulle gekom het, so gaan dit ook met die ANC.

Die oplossing? Sakeondernemings moet geld beskikbaar stel vir ’n Arbeidersparty links van die ANC. Sakeondernemings moet dus aktief met die SAKP en Cosatu begin onderhandel en dit vir hulle finansieel moontlik maak om die sprong te maak.

Dan, hopelik, sal ons dit regkry om die ANC in ’n koalisie in te dwing. Vra bietjie vir Pieter Mulder. Hy is die een ou wat al járe lank oor koalisies praat. (Terloops: Selfs as die nuwe Arbeidersparty in ’n koalisie gaan met die ANC, sal dit steeds beter wees vir ons as die huidige bestel, want hulle sal enige tyd kan uitstap.)

Julle dink seker ek is mal om te dink ons sakelui moet ’n Arbeidersparty steun? Wel. Kyk wat gebeur in die VSA. Besigheid was nog altyd agter die Republikeine... tot Bush die ekonomie só ver laat daal het dat selfs die sakelui besef het dat verandering nodig is.

Vra vir die NP ook: Die myne het van die goedkoop arbeid gehou, maar na ’n tydjie was hierdie land so na aan bankrotskap dat ons nie sou kon aangaan nie. Dis hoekom die sakelui begin geld stoot het vir die opposisie.

Kyk ook wat gebeur in Europa: Daar kry arbeiders nie verhogings as hulle nie bereid is om produktiwiteit te verbeter nie. Hier in Suid-Afrika is ’n verhoging skynbaar ’n reg. (Dis waar dat ons inflasie hoër is as Europa s’n, maar die meeste arbeidsgeskille gaan gewoonlik oor lone wat hoër is as die inflasiekoers.)

Demokrasie is ’n simpel ding, Boerseun. Kyk hoe lank was die NP aan bewind. Kyk hoe maklik het Bush gewen (die tweede keer). Kyk ’n bietjie hoe Sarah Palin haar tande begin slyp vir die Withuis.

Palin? Withuis? Goeie hemel!

Zuma is minstens intelligent... Ek kies sy umshini enige tyd bo haar takbokgeweer.

Kyk ook wat het in die VK gebeur: Dit was vir jare lank in die hande van die Konserwatiewe party. Toe kom Tony Blair aan bewind. Wat doen hy? Hy word ’n tweede John Major. Daar was geen verskil tussen Blair se Arbeidersparty en die Konserwatiewe Party nie. Ek moes myself soms knyp om te dink dat Blair wél die Arbeiderleier is.

In die VK is die Liberaal Demokrate die enigste “linkse” party. Hulle doen goed, proporsioneel gesproke, maar kan nie wen nie weens die kieskollegestelsel. (En om hulle links te noem is eintlik grappig, maar teen die moderne Arbeiders ís hulle links!)

In Suid-Afrika hét ons nie eens so ’n “linkse” party nie.

Daar is niks te kies tussen die ANC, DA, COPE en die ID nie. Al vier is gematigde partye in die middel van die spektrum. (Binne die ANC is linkses, soos Gwede Mantashe en Jeremy Cronin, en regses, soos Zuma en Malema. Die party self is egter in die middel – party sê selfs hulle leun na regs.)

Na regs het ons die IFP, FF+ en die ACDP.

Destyds het ons die PAC en AZAPO aan die linkerkant gehad, maar hulle is deesdae nie meer faktore nie.

G’n wonder ons mense weet nie vir wie om te stem nie.

1 view

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page