top of page
  • Izak de Vries

Mymerings oor kuns


(c) Awie Badenhorst

Ek wil ’n klip in die bos gooi: Wat is kuns?

Ek wonder, want ek is onlangs genooi om werk voor te lê wat Saterdagaand opgeveil gaan word by Bishops, daardie peperduur privaatskool hier in die Kaap.

Het julle al Lou se dogter se boom gesien? Dís kuns!

Of wat van Kammkazi se gedig wat begin met: “om skaam woordvissies / met stywe rympies / te sit en vang”? Dis gewoon pragtig. Terwyl julle daar is, lees sommer Francois Williams se antwoord, in digvorm, laer af. Dis die moeite werd.

Maar hoekom is sommige woorde kuns? Hoekom is een stel woorde op papier kuns en ’n ander ’n inkopielys? Waarom is sommige woorde wonderbaarlik, en ander nie?

Daar gaan Saterdagaand ook, onder andere, getekende plate deur Kenneth Newman te koop wees. Newman is die man wat voëlkyk amper eiehandig ’n stokperdjie gemaak het in Suid-Afrika met sy lewensgetroue tekeninge van voëls. Maar is ornitologies-korrek kuns?

En “kuns” is natuurlik nie bloot ’n waardeoordeel nie. Ek is mal oor die boeke wat ek maak by die werk – ja, selfs daardie dônerse boek oor die dakkappe lyk pragtig. Ek is werklik trots daarop. Maar kuns is dit nie.

Voorts sou dit tog gek gewees het as Kenneth Newman se sketse soos Picasso s’n sou lyk. Ek sou nooit ’n mossie van dragtige seekoei kon onderskei nie. Maar sou ons nie armer gewees het as Picasso vasgesteek het by die realisme nie? Hy kón hoor. Sy vroegste werk was enige tyd so realisties soos Newman s’n.

Ek het deelgeneem en foto’s geskenk vir Saterdagaand, omdat ek glo in die saak. Elke sent wat ingesamel word, gaan geskenk word aan Habitat for Humanity. Wat meer is, daardie ryk kindertjies gaan self die huise bou.

Dis egter moeilik om aan myself as ’n beeldende kunstenaar te dink. Ek hou van skryf. Ek is mal oor fotografie, maar ek moes krap om iets te kry wat sou pas by die tema: “Beautiful, hopeful Africa”. En dan nog dit probeer “kuns” noem ook.

Hier is van my werk.


Die mooi foto bo aan hierdie blog kom van my geleerde vriend, Awie. Hy’t gesê ek moet dit op my blog sit. (Graag.) Daar gaan drie van Awie se foto’s ook opgeveil word Saterdagaand.

Ek glo nie daar gaan Picassos wees op die veiling nie, maar daar sal wel baie goeie wyne te koop wees. Toegang is slegs R60 en dit sluit “bodemlose wyn” en goeie musiek in. (Pasop vir die wyn ... jy mag dalk ’n dragtige seekoei vir kuns sien na ’n paar glase!)

Die deure maak Saterdag 17h30 oop. Die veiling is by Bishops.

MAAR: Laat my weet wat júlle dink “kuns” is, asseblief!

0 views

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page