top of page
Uitmelkbos

My eie,eie bittersoet CD


Hierdie persoonlike CD, ‘n geskenk van wyle Fred Schnetler op my 60ste verjaardag, was gisteraand op my draaitafel. Sommer net. Ek het in vervoering geluister na ou gunstelinge soos Lilli Marleen en Möwe, du fliegst in die Heimat. Vandag se blog is nie nuut nie. Dit was jare gelede op www.hennievandeventer.blog/html.com Vergewe my asseblief dat nostalgie my dryf om dit ook hier teen mot en roes te bewaar.

Hennie van Deventer

Wat 1941 – my geboortejaar – betref, was oorlog en musiek stalmaats. In die Tweede Wêreldoorlog het te midde van al die troostelose ellende musiek gekom wat onvergeetlik geword het.

Vir my 60ste verjaardag – ook al ‘n klompie jare gelede – was wyle Fred Schnetler se geskenk ‘n spesiale CD – met musiek wat plus-minus ewe oud is as die uwe. Oorlogsmusiek oorheers op daardie CD. Die meeste liedjies dateer uit ’41/’42 – die ander is ten minste gedurig in daardie jare oor die radio en platewinkels gehoor.

Nou kan jy van die Duitsers sê wat jy wil – soos dat hul humor nie iets is om oor te lag nie! – maar hul musiek het ‘n klank wat soet op hierdie ou man se ore val. Op Fred se “CD vir HvD” is die Duitse bydraes o.m. Lilli Marleen, Möwe, du fliegst in die Heimat en die marslied Erika. Hartsmusiek!

Möwe was nie verniet in die jare ’50 en ’60 van die gewildste nommers in SAUK-versoekprogramme nie. Ook by my skool, Volkies op Potchefstroom, se plate-aande was dit ‘n treffer. Die liedjie handel oor ‘n Duitse soldaat wat ‘n seemeeu sien terugvlieg in die rigting van sy vaderland. Sentimenteel, boetie!

Lilli Marleen was waarskynlik die Groot Treffer van Wêreldoorlog Twee. Dit is tydig en ontydig deur vriend en vyand gespeel en gesing. Die Suid-Afrikaanse Sesde Leer het sy eie vertaling van Lilli Marleen geskep en dit die Sixth Army Song genoem.

Aanvanklik het die opperbevel van die Duitse weermag geweier om toestemming vir die radio-uitsending van die lied te verleen omdat dit kwansuis prostitusie sou verheerlik! Dit deel ek mee op gesag van Fred wat van sulke dinge geweet het – musiek, bedoel ek, nie prostitusie nie! (Die lied handel oor ‘n soldaat wat sy nooi onder ‘n rooi lantern in die berugte St. Paulibuurt in Hamburg ontmoet.)

Die bekendste opname van Lill Marleen is waarskynlik Marlene Dietrich s’n. Fred het vir my die oorspronklike Lale Anderson-opname op die CD gesit. Volgens hom is dit “loshande die beste”. Self het ek nie so ‘n fynproewersoor nie (ek hou baie van Marlene D s’n), maar ek voel bevoorreg om me. Anderson die liedjie te hoor sing – soos elke jaar op 3 Januarie, my verjaardag, oor en oor.

Erika was die groot Duitse marstreffer uit die jare veertig., lank voordat Gé Korsten dit op SA se treffersparade laat beland het!

Aan die Geallieerde kant was die Amerikaanse Colonel Bogey van die gewildste marsmusiek (saam met die ewe bekende The Stars and Stripes forever). Op Fred se CD is die Boston Pops se weergawes, albei met die groot Arthur Fiedler as dirigent – wat dit vir my dubbel spesiaal maak.

Van die lekker persoonlike musiekherinneringe van die Van D’s se jaar in Boston se buurstadjie Cambridge (tuiste van die Harvard-universiteit) in 1976/77 was konserte van die Boston Pops.

Nou wil ek stout wees en gaan ek stout wees. Soldate is nou maar een maal soldate en Colonel Bogey het so ‘n lekker singbare wysie dat soldate gou hul eie woorde by die melodie laat inpas het, soos:

Hitler – has only got one ball. Goering has two, but far too small. Himmler – is rather sim’lar, But poor old Goebbels has no balls at all.

Probeer dit sing – die woorde pas perfek!

Aan Geallieerde kant was Vera Lynn die “Force’s Favourite”. Van haar is twee nommers op my CD: The white cliffs of Dover en A nightingale sang in Berkeley Square.

Eersgenoemde is ‘n trooslied by uitstek. As jy mooi na die woorde van laasgenoemde luister, besef jy weer hoe beroerd dit in 1941 in Londen gegaan het. Dit was, soos Fred vir my geskryf het, daardie tyd nie ‘n plesierige plek nie.

Moet darem iets sê oor As time goes by – op my CD gesing deur Ronnie Aldrich. Dit was natuurlik die deuntjie in die klassieke fliek Casablanca van Ingrid Bergman en Humphrey Bogart. En die bekendste toneel uit daardie fliek is waar Bogart na die man agter die klavier stap en se: “Play it again, Sam.” Wat moes Sam weer speel? Moenie raai nie, soos Johan Stemmet in Noot vir Noot gereeld waarsku!

Die laaste nommer op my CD is jazz. Glenn Miller se In the Mood.

Dit is baie spesiaal – ‘n direkte BBC-opname wat einde ’41 in die offisiersmenasie van die RAF op Bigging Hill gemaak. Die vermoede is dat Miller in 1944 in ‘n vliegtuigongeluk omgekom het nadat sy orkes iewers in Frankryk vir die Geallieerde Magte gespeel het. Sy vliegtuig het vermoedelik oor die Engelse Kanaal neergestort.

In 1955 toe ek in standerd 8 was op Volkies het een van die Koshuismaats in Jack Pauw ‘n Glen Millerplaat gehad. In the Mood was omtrent ons Jack Pauwers se temalied!

Ai, die herinneringe wat so terugspoel – en die heimwee. Bitter-soet, dis mos waar die woord vandaan kom. Het ek ooit vir Fred in sy lewe genoeg dankie gesê vir daardie onvervangbare CD? Ek twyfel.

Te laat, te laat, maar “thanks for the memories”, my vriend, soos die Engelse sou sê.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page