top of page
  • Uitmelkbos

“MY” DRIE RENOSTERS …


 ‘n Mens ys as jy deesdae so ‘n mooi renostertoneel in die Kruger-Wildtuin sien – hoe nader aan die Mosambiekse grens des te meer. Hierdie drie grotes het ek in Januarie oop en bloot op die teerpad tussen Skukuza en Onder-Sabie  raakgeloop.  Sagte teikens …

 Dadelik het ‘n beklemming my gepak. Iewers sluip stropers. Dit weet jy mos.  Het ek dan nie al self gesien hoe twee mans by die Krugerhek ‘n jagwapen probeer insmokkel nie!  (Hulle is deur ‘n  hardnekkige vroulike sekuriteitsbeampte uitgeruk – tot haar ewige eer.)

 “Die stropers het geen vrees vir die donkerte of wilde diere nie en vonnisse skrik hulle ook nie af nie,” verklaar Ken Maggs, wat aan die hoof staan van die afdeling vir die bestryding van omgewingsmisdaad, aldus die Junie-uitgawe van Bosnuus, aantreklike, informatiewe nuusbrief van Marlothpark onder die knap redakteurskap van Jacques de Villiers.  Marlothpark is die spreekwoordelike klipgooi van Krokodilbrug en die Mosambiekse grens.

 Die instroming van stropers word toenemend ‘n reuse-uitdaging.  “Dis ‘n volskaalse oorlog gekenmerk deur handgemene guerrilla-skermutselinge en gevegte tot die dood gevoer teen vreeslose invallers,” som Johan Jooste, ‘n afgetrede general-majoor van die SA Weermag, wat Desember aangestel is as koördineerder van die anti-stropingsveldtog, die situasie in dieselfde artikel op.

 Die anti-stropingeskader by Skukuza span taktiese middele in wat ooreenstem met optredes op slagvelde dwarsoor die wêreld. Veldwagters, spesiaal vir hulle militêre rol opgelei, fynkam die bos vir dae aaneen toegerus met gesofistikeerde tegnologie. Lugreaksiespanne en snuffelhonde staan hulle by, lees ek in dieselfde artikel. “Die Wildtuin verkeer in ‘n staat van beleg.”

 Bemoedigend dat die stryd so intensief gevoer word aan die een kant. Maar tog so verskriklik hartseer dat helikopters wat sirkel en weermaglorries met swaar gewapende soldate op die paaie nou deel van jou hedendaagse Wildtuin-ervaring moet word.  Ek en Tokkie het die helikopters in Januarie dikwels oor die Sabierivier van Sabiepark se kant af gesien.  Op pad Phabenihek toe of Krokodilbrug toe – oral – rammel swaar khaki voertuie by jou verby. 

 Soms sien jy een half afgetrek van die pad af met verkenners wat die horsison met ‘n kragtige verkykers bespied. Soms is niemand in sig nie.  Dan weet jy ‘n operasie is dalk net agter die eerste linie bosse aan die gang.  Ons wintervakansie (van 14 Junie af) gaan bepaald nie in hierdie opsig anders wees nie.

  Die rol van oorgrensparke word in die Bosnuus-artikel uitgelig. “In 2002 is ‘n uitgestrekte gebied van 35 000 vierkante kilometer tot ‘n oorgrenspark verklaar kragtens ‘n ooreenkoms tussen die regerings van Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe,”  lees ek.

 “Nou het natuurliefhebbers tot hul skok verneem dat al 300 renosters in die Mosambiekse gedeelte van hierdie Groter Limpopo- Nasionale Park uitgewis is ter wille van die buitensporige pryse wat horings in Asiese markte behaal.

 “Weens die armoede in die Mosambiekse gebied aangrensend tot die Wildtuin heers, die bevolking met die grootste gemak deur professionele sindikate by die onwettige handel in renosterhoring betrek. Verslae is al ontvang wat daarop dui dat hele dorpies opgeskiet het met stropery as enigste dryfveer.

 “Voeg daarby dat aanklagte bestaan teen 30 wildbewaarders vir aktiewe betrokkenheid by die renosterstropery, wat in Maart geëindig het toe die laaste 15 in die Mosambiekse Limpopo-Nasionale Park doodgeskiet  is. Die situasie word vererger deur die gebrek aan behoorlike wetstoepassing en die algemene voorkoms van korrupsie in Mosambiek, waar die besit van renosterhoring nie as ‘n ernstige oortreding beskou word nie. Die smokkelhandel met markte in Asië gaan dus ongestoord voort.

 “Dit is bekend dat die stropery wat in die Wildtuin hoogty vier, uit dieselfde oord bedryf word en dat ons regering dringende aandag sal moet skenk aan stappe wat in samewerking met die Mosambiekse regering gedoen kan word om hierdie enorme euwel die nek in te slaan. Teen die einde van April was reeds 179 strooptogte vanuit Mosambiek uitgevoer,” berig Bosnuus.

Wonder terwyl ek so met ‘n swaar gemoed lees of “my” drie renosters op die foto nog met hul horings ronddraf.  Wens  ek  kon die stomme diere waarsku om diep-diep in die bos, ver van die verraderlike mens met sy skietgoed en kapmesse,  te gaan wegkruip ….

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page