top of page
  • Uitmelkbos

MY “BEGRAFNISPAK”


‘n Vriend se broer is ‘n groot man met ‘n gewig (het die woord “massa” ooit wortel geskiet?) wat woes wipplank ry. Vir die wis en onwis hou hy drie stelle klere aan – voorbereid op die twee uiterstes van swaar en lig en darem met ‘n behoorlike verskoning vir die tussenin-fase ook.

Soos die wyse maagde met hul lampies raak hy nie meer onverhoeds betrap as sy gewig na al die swoeg en sweet skielik ‘n onwelkome opswaai toon nie. Wie in ons geledere van gewigtiges ken nie daardie komplikasies met klere wat rek en krimp nie?

Op die oomblik is my broeke die leste een verklein. Die Singer het gesing soos nate “uitgesit” is. Die keuses waarmee ek elke oggend gekonfronteer word, is verbysterend. Broeke wat ek laas Nuweland toe gedra het toe ek nog ‘n losie-bevoorregte was (voor aftrede einde 1997) pas nou weer eksie-perfeksie.

Ook my donkerblou dubbelbors-“blazer” met die rye koperknope, ‘n paar ander variasies op die tema sportbaadjie en onder meer die swart wolpak met fyn strepies waarin ek op die maat van “Oh Mein Papa” van Eddie Calvert met die bruid gewals het toe my dogter, Marisa, op 30 Desember 2000 getroud is.

Juis hierdie halleluja-ontwikkeling van klere wat skielik weer uit die kas kan kom, voer die gedagtes van hierdie steeds ietwat gesette ou gryse terug na my “begrafnispak”.

My “begrafnispak” was een wat ek in my laaste jare graag kantoor toe gedra het: ‘n geruite grys met ‘n groen skynsel (so deel Tokkie my hulpvaardig vriendelik mee, want ek is mos rooi-groen-kleurswak). By hom het ek graag een van daardie “korporatiewe dasse” aangesit, met ‘n verskuilde kommersiële boodskap in die ontwerp. Hierdie een het ek by wyle Werner Wager, wellewende Duitse fabrieksbaas, gekry. Die ontwerp is van ry op ry groot houtletters, soos daardie wat in die ou dae in koerante en tydskrifte se drukkerye gebruik is om opskrifte met die hand te set (foto).

Ewenwel, daardie geleentheidspak (en passende das) het sedert 1998 in ‘n plastiekjassie in ons kas in Sabiepark gehang – gereed vir ‘n “begrafnis” wat uit die bloute kan opduik terwyl ek daar met my hoofsaaklik kakie-bos-klerekas sit. ‘n Mens sweet nooit …

‘n Paar bruin “begrafnisskoene” het ook in ‘n hoekie in daardie kas tussen my vellies en robuuste stapskoene gereed gestaan.

Hier circa 2009 sê Tokkie honend: “Pas ‘n bietjie daardie pak aan.” Ek reageer aanvanklik kopsku. Die morele dwang is egter geweldig. Natuurlik word die die voorspelbare “ontdekking” gedoen: my mooi pak sou, helaas, nie meer deug as ek skielik “begrafnisklere” nodig sou kry nie. Die hele uitrusting kom toe terug Melkbos toe, das, skoene, die lot.

Oor eerskomende Sondag se kerk-uitrusting kry ek toe ‘n vonkel in die oog. Al word die kerkdrag deesdae gekenmerk deur algemene dasloosheid, pak die bevlieging my om ‘n slag ewe deftig in my “begrafnispak” te klim, das, skoene en al.

“Tokkie. Waar’s daai pak wat in Sabiepark was?”

“Vir Solidariteit gegee.”

“Solidariteit?” Natuurlik. Toe onthou ek. My pak se verwisseling van eienaarskap was nogal met die uwe se instemming. Nie gedink hy sou ooit weer vir HvD, toe op die toppunt van sy gewigtigheid, enige nut of waarde hê nie.

Nou soek ek hom met ‘n seer hart. Tokkie is onwrikbaar: dis neusie verby. “Eens gegeven, dan genomen, is erger as ‘n dief gestolen.” Buitendien, sy gaan in geen omstandighede die verleentheid op haarself haal om eens te gaan navraag doen oor die beskikbaarheid van haar eggenoot se “te groot pak” nie. Selfs die opsie om hom “terug te probeer koop”, het, volgens haar, het geen lewensvatbaarheid nie. Sela.

My mooi pak is Solidariteit toe en finis. Dis die einde van die storie. Die das kan maar, saam met dosyne ander, in die ou sloop kom waar ek daardies bewaar wat ek nooit weer sal dra nie, maar darem nie kans sien om weg te gooi nie, omdat ek aardig sal voel as hulle om sommer enige nek hang.

Die skoene? Die’s opnuut loshande die beste in my kas, ontdek ek toe ek dit uithaal en deeglik ondersoek. Sal Sondag ten minste in daardie “begrafnisskoene” kerk toe opruk, dis nou maar wors.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page