top of page
Uitmelkbos

“MVOKOL” OP DIE HART?

Die pad van ‘n redakteur is gedoriewaar nie met rose besaai nie.

Ná ‘n uitputtende potjie met ‘n neurotiese tannie, en later ook met haar ewe neurotiese vriendinne, oor die afwesigheid van nuus in sy blad oor ‘n kleindorpse hondeskou, het ‘n Amerikaanse redakteur by die mashoof van sy koerant die raaiselagtige anagram THWTB begin plaas.

Op navraag oor die betekenis was sy verduideliking: The hard way is the best. Later is onthul die eintlike betekenis was: To hell with the bastards!

Ja, lesers kan uitmergelend wees.

Party redakteurs kies die lafaard se pad en slaan op vlug. In my boekie Praat-praat in Tamatiestraat wat op pad is, vertel ek van so ‘n ou uit n vorige generasie – toe ons nog so half Hollands gepraat het in hierdie land. Hy had ‘n nagmerrie waarin lesers hom verskreeu oor allerlei, van groot pampoene tot die sleep van ‘n trourok. “De volgende morre,” eindig die storie dan lakoniek, “het hij sijn ampt bedankt!” Ek het enkele stories gaan opgrawe in my boekie Flaters en Kraters (hierbo) wat in 1996 verskyn het, n.a.v. die nuus dat die redakteur van die te stigte pro-ANC koerant, New Age, Vuyo Mvoko ‘n dag voor die eerste uitgawe bedank het.

In sy geval kon veeleisende lesers nie ‘n rol gespeel het nie. Daar was dan nog nie lesers nie. Miskien moet ons die rede vir sy bedanking soek in ‘n ander storie in FenK: die pittige aanhaling van ene Robert McHugh.

McHugh verklaar dat almal glo ‘n koerant moet onverskrokke sy sê sê, en, as bewys daarvan, elke dag ‘n redaksionele opinie moet uitspreek. “Klaarblyklik neem hierdie benadering nie die embarrasserende moontlikheid in ag nie dat daar dae kan wees dat selfs die mees ingeligte redakteur sonder ‘n sinryke idee sal wees wat die moeite werd is om uit te spreek.”

Ek wil nou nie ligsinnig wees nie, maar dalk het mnr. Mvoko in sy eerste uitgawe ”mvôkol” op die hart gehad!

Nietemin, sy bedanking die dag voor verskyning moet die een of ander rekord wees. Tot dusver was die kortste redakteurskap aan die uwe bekend (dis ook in FenK) dié van Ken Owen, eerste redakteur van Business Day. Dié latere suksesvolle redakteur van o.a. die Sunday Times het ná net vier dae ‘n ander pos gekry.

Voorheen is die rekord gehou deur Martin Spring wat 17 dae lank die redakteur van The Citizen was.

Ns. Flaters en Kraters is al lank nie meer op die rak nie. Hierdie is dus nie ‘n verskuilde bemarkingspoging vir hom nie. Tamatiestraat is nog nie op die mark nie …

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Commentaires


bottom of page