top of page
  • Uitmelkbos

MUSIEK MET VLERKE


Musiek met vlerke. Dit sou die naam kon wees van ‘n versameling liedere met die tema voëls: van die gevleueldes se grasie tot hul skoonheid of hul klokhelder sang.

Uit die operaskat, uit klassieke werke, uit trefferdeuntjies – ook immergroen Afrikaanse gunstelinge – uit gospelmusiek, uit elke denkbare oord kan ‘n mens “musiek met vlerke” put. Soos skilders en digters deur die eeue heen is ook komponiste deur die “reënboognasie van die natuur” geïnspireer.

Veral oor die duif – spesifiek die wit duif – is die liedere legio, met La paloma ‘n sterk persoonlike gunsteling oor lange jare, al van Plate-aande af by Volkskool op Potchefstroom. Julio Iglesias sing La paloma voortreflik. Ook Freddy en Heino. O la paloma blanca was George Baker se grootste globale treffer. Op gospel-terrein swaai Ferlin Husky se Wings of a snow white dove die septer.

Cu Cu Ruu Cu Cu Paloma van Nancy Ames is bekoorlik (soos die blonde sangeres self). Tortelduif (Gé Korsten) verheerlik ook duiwegesang met sag-op-die-oor-klanke.

Swaeltjies, en hul kom en gaan saam met die seisoene, figureer wyd in liedjies. Pat Boone se When the swallows come back to Capistrano (met die beierende kerkklokke) was in my jeug ‘n treffer. Uit my nog my nog priller jeug dateer Die Swaeltjie (O swaeltjie draai) deur Jurie Ferreira. Deesdae bestaan ‘n mooi opname deur die Phantom André Schwarz.

Terwyl ons by swaeltjies is: geen verwysing na swaeltjie-liedere kan mos volledig wees sonder die Griekse nooi Nana Mouskouri se La Golondrina (bron van ons eie Die Swaeltjie) nie.

Seemeeue dra dikwels ‘n boodskap van liefde en verlange (selfs hartseer) oor. Möwe, du fliegst in in die heimat van Magda Hain kom ook uit my plate-aand-dae by Volkies. Moderner seemeeu-liedere (ewe stemmingsvol) is o.m. Anneli van Rooyen se Seemeeu en Rina Hugo se Soos ‘n seemeeu.

Waar seemeeue verlange weerspieël, weerspieël ‘n blousangvoël loutere geluk. Jan Peerce se Blue bird of happiness is ‘n tipiese voorbeeld. In Over the rainbow (ek hou veral van Judy Garland en Louis Armstrong s’n – maak jou keuse ) is dit die nimlike blousangvoëltjie wat so begeerlik hoog bokant die reënboog vlieg.

Liedjies bestaan oor voëls van allerlei vere – buiten blou, onder meer ook geel (Yellow bird) en bruin (A brown bird singing). Van eersgenoemde is ‘n relatief onbekende maar onvergeetlike opname een deur ons eie Gert Potgieter. Die bruin voëltjie word besing deur John McCormack.

Die piepkleine pepermossie kom in die liedereskat voor (Pepermossie*, Laurika Rauch), maar ook die arend met sy indrukwekkende vlerkspan (Sweef soos ‘n arend, wat ons eie Melkbosse dominee Marius Falck baie besonders op ‘n CD verewig het).

Grasie is nie tot die lug beperk nie. Swane-grasie word o.m. besing in Swaan uit Karnaval van die diere (Saint-Saens), Europese Filharmoniese orkes, en die Wals uit Swanemeer (Tsjaikofski), Russiese Staatsimfonie-orkes.

Klassieke voëlmusiek, soos bogenoemde, kry ons ook in die ouverture tot Die skelm ekster (Thieving magpie) van Rossini. ‘n Opname wat die bloed laat bruis, is van die Weense Neujahrskonzert 1991 met Claudio Abbado wat die stokkie swaai.

Individuele voëlgesang wat in liedjies verewig is, wissel van die nagtegaal se spreekwoordelike soet sang (A nightingale sang in Berkeley Square, Vera Lynn) tot die skor kreet van die kolgans wat sy maatjie verloor het(Kolgans, Janita Claassen).

Kollektiewe voëlsang kry ons in Bird song at eventide (Richard Tauber), Aandlied van die voëls, fluitend aan ons gebring deur die Fluitende predikantsvrou (Ryne de Beer) en And the birds were singing van die Sweet People (werklike gekwetter en getjilp). In Mockin’ bird Hill (Patti Page) hoor ons die “mockin’ bird” (dassievoël?) se melodieuse mengsel van nagebootste voëlsang.

Die tema van die treffer-TV-reeks The Thornbirds van Mancini (Patricia Spero op die harp) is werklik treffend. Maar wat is ‘n “thorn bird”? In werklikheid bestaan hy nie. Op Google lees ek: “The title refers to a mythical bird that searches for thorn trees from the day it is hatched. When it finds the perfect thorn, it impales itself, and sings the most beautiful song ever heard as it dies.”

Pragtige Bosveldvoëls waaroor ek geen liedere kon opspoor nie, is onder meer die koninklike bloukuifloerie, die pers troupant, die goudgeel swartkop-wielewaal, die flambojante kuifkopvisvanger en die elegante saalbekooievaar, hierbo op die Doispanepad in die Krugerwildtuin afgeneem.

(Ek ken ‘n pepermossie nie. Wou vandag vir Lina Spies vra by die Kaapse roudiens vir Hendrik Venter van Griffel Media. Die geleentheid het hom ongelukkig nooit voorgedoen nie.)

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page