top of page

MURASIES

Uitmelkbos

Vyf hotels figureer in my en Tokkie se wittebroodsdae aan die begin van 1967. Hul geskiedenis is, helaas, oorwegend maar droewig.

Ons is op Oujaarsdag 1966 op Bultfontein getroud. Die eerste nag het ons op Winburg geslaap – die Winburg Hotel, skuins oorkant die kerk. Dié kasarmte word nou omgeskep in ‘n “herberg” nadat klaarblyklik ‘n steil afdraandepad geloop is. Dit kon erger gewees het. Die ander hotel op die dorp, die Ford Hotel (Fordsons?), is ‘n jammerlike bouval.

Die tweede nag was ons in die Royal Natal Hotel aan die voet van Mount-Aux-Sources. Toe ons tien dae gelede die aftakeling aanskou van hierdie eertydse baken in die Drakensberg was ons geskok. Onkruid staan twee meter hoog waar die deftige eetsaal was, en in die koninklike kwartiere waar Koning George en sy gesin in 1947 uitgespan het, is stukke dak weg.

Prinses Elizabeth, die huidige koningin van Engeland, het hier haar mondigwording gevier. As jy dit nie weet nie, sal jy dit nie glo nie.

Die derde nag was ons in die Beach op Amanzimtoti – ‘n gewilde gesinshotel op die strandfront. Tot siens, Beach. Hy was al lankal in die pad van ontwikkeling, hoor ek.

Van die vierde nag af was ons ‘n week of wat in die Lonsdale in Weststraat, Durban – nie uitsonderlik nie, maar netjies, skoon, gesellig en, boonop, bekostigbaar. Drie goeie etes per dag aangebied. Drie sterre.

‘n Jaar of wat gelede het ek en Tokkie die Lonsdale gaan soek. Liewe land, “ons hotel” is nou ‘n “boardinghuis” vir immigrante uit Afrika. Lyk maar oes.

Vir die laaste nag het ons genoeg geldjies oorgehad om op te gradeer. Ons was in Sol Kerzner se Beverly Hills in Umhlanga Rocks, destyds sy vlagskip. Die BH is al lank nie meer Sol se plek nie. Maar dis die enigste van die Van Deventer-vyf wat uitgestyg eerder as agteruitgegaan het.

Toe ons laas daar op sy dek ‘n wyntjie gaan drink het, was John Smit se Springbokke in die hotel tuis. Tariewe is hemelhoog. ‘n Glasie witwyn op die stoep kos ‘n klein fortuin. Moenie jou verontwaardiging só luidkeels verkondig nie, het Tokkie gemaan.

Maar dankie tog vir die Beverly Hills (steeds die toonbeeld van elegansie daar langs die Oyster Box). Anders kon ‘n mens maklik die indruk gekry het ons wittebroodsreis was getoor. Tokkie sê hoeka ons huwelik self is omtrent al van destyds wat nie verbrokkel het nie!

Van al die verbrokkeling is die plundering van die Royal Natal die hartverskeurendste. Dié plek het glo ‘n paar jaar gelede leeg graak toe die huurders se kontrak verval. Nie lank daarna nie het die vandale toegesak. Die strakke murasies teen die agtergrond van die asemrowende panorama van die Amfiteater in sekerlik een van die heel mooiste landskappe in die ganse Drakensberg is nie ‘n mooi prentjie nie. Oordeel maar self.

My kennismaking met daardie historiese hotel was in 1964 toe die rolprent Zulu daar rond verfilm is. Die werklike slag wat uitgebeeld is, was eintlik by Rorke’s Drift. Natuurskoon is egter soms vir filmmakers belangriker as feitelike juistheid.

In elk geval, ek en wyle Kas Dreyer is deur Die Volksblad gestuur om te gaan verslag doen van die rolprentmakery. Kas het treffende foto’s geneem van veral een nagtelike brandtoneel. Die Royal Natal het só ‘n indruk op my gemaak dat ek en Tokkie eenvoudig daardie draai moes ry op pad Durban toe vir die wittebrood.

Die Royal Natal was ‘n vyfster. Al sterre wat oorgebly het, is die sterre aan die hemelfirmament snags – plek-plek sy enigste dak. Sic transit gloria mundi – ‘n klassieker definisie van hierdie spreuk sal jy ver soek.

Naskrif: In Sabiepark skyn die son vanoggend belowend. Gister was dit steeds ver van warm. Gistermiddag het ons ‘n vleisie gebraai. Ons het styf teen die vuur gesit! Die bosnagape het toe Saterdagaand weer hul verskyning gemaak, sommer drie in ’n bondel. Die “lugverkeer” by Tarlehoet was skielik weer op sy lewendigste. Vanoggend was drie leeus by die piekniekplek. Ons kon twee leeugesigte tussen die wintergras uitmaak.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page