
Gisteraand, eergisteraand, ná twee glasies wyn, raak ek aangedaan oor my ontslape studentevriend Jaap de V. Neethling, wat in 1958 saam met my eerstejaar (ienk) in Kollegtehuis was.
Hy het as Japie op Tukkies aangekom. Gou het ons hom Jaap genoem, of partymaal Jaap de Vee. Later het hy “Moses se hond” geword weens ‘n beweerde ooreenkoms in gelaastrekke met die troeteldier van Moses, Griekse eienaar van ‘n kafee op die hoek naby die koshuis.
Die innemende Jaap had ‘n fyn humorsin wat hom geliefd gemaak het. Die naam “Moses se hond” het hy hom met ‘n vrolike laggie laat welgeval.
Japie (Jaap, Jaap de Vee, Moses se hond) was ‘n slim Vrystaatse seun (uit Boshof, meen ek) met ‘n paar matriekonderskeidings agter sy naam. Hy was ‘n meelewende koshuismaat wat, ook as ienk, gretig aan alles wou meedoen. Ongelukkig kon hy nie. Hy was gestremd, met ‘n boggel wat sy skraal lyf se balans erg versteur het. Loop was vir hom ‘n inspanning.
Dié las het Jaap blymoedig gedra. Na my wete het hy nooit gesug of gekla nie. Wel het dinge een laataand in sy eerste jaar (of dalk sy tweede) blykbaar vir hom baie swaar geword. Hy is alleen in die toring van die Ou Letteregebou op met bedoelinge waaroor ek my nie kan uitlaat nie, omdat die insident tussen ons nooit ter sprake was nie.
Fanie van Huysteen, Kollege se huisvoorsitter in 1959, het hom daar gekry en, vermoed ek, op sy rustige manier met Jaap gepraat. Die uiteinde was dat Jaap saam met hom af ondertoe is.
In die studentelewe het Jaap aktief aan nie-fisieke aktiwiteite soos fotografie en skaak deelgeneem. Hy was voorsitter of ondervoorsitter van die fotografie – en die skaakvereniging. Van sy treffende fotostudies het in die Tukkie-jaarblad, Trek, verskyn.
In 1960 is Kollege na die proefplaas verplant, met ‘n swetterjoel eerstejaars en die brandende ambisie by die HK om sommer met die intrap diep spore op die kampus te trap. Die eerste geleentheid was die ienksport. Dit was nie ‘n sommerso-geleentheid nie. Die atlete is intensief afgerig.
Gelukkig onthou ek toe dat Jaap op skool bestuurder van die atletiekspan was. Ons vra hom of hy die ienskport op sy skouers sou neem en hy willig dadelik in.
Sy entoesiasme was aansteeklik. Elke middag is hy skeef-skeef op sy fiets die iets oor die twee kilometer van die proefplaas kampus toe met sy atlete, stophorlosie, maatband en wat nog.
Hoe nader ienksport gekom het, hoe harder het Jaap gewerk, en des te sterker kon jy sy vasberadenheid en selfvertroue dag vir dag sien groei. Toe die Saterdag aanbreek, was Jaap se span gereed. Dit was ‘n triomf soos die atlete met ‘n K (vir Kollege) op die bors die wennerspodium in ‘n stroom bestyg. Kollege het loshande gewen.
Vir die eerste keer word ‘n HK-aflos toe by die program ingesluit. Ek moes die laaste been hardloop, ‘n 220. Só asof my lewe daarvan afhang het ek nog nooit ‘n 220 gehardloop nie. Toe my bors die lint tref, was ek net dankbaar dat ek Jaap en Kollege nie in die steek gelaat het nie.
Ek het Jaap die laaste keer gesien by die een of ander koshuis-reünie in die jare 80. Hy het ‘n lojale Kollegeman gebly, en het gereeld reünies bygewoon – in my boekie ‘n belangrike maatstaf van die stoffasie waarvan iemand gemaak is. Presies wanneer hy oorlede is, weet ek nie. Die afgetakelde lyf het eenvoudig mettertyd al hoe meer ingegee.
By nadenke, ná al die jare, twyfel ek of Jaap ooit naastenby die eer gekry het wat hom toegekom het vir die “nuwe” Kollege se eerste groot voetspoor as koshuis, en die tradisie van presteer op elke terrein wat dit ingelui het.
Wat ek nie kan glo nie nie, is hoe op deeske aarde ek daarin kon slaag om ‘n boek soos “Byl in my bos” te skryf sonder om só ‘n groot gees soos Jaap de Vee in te sluit. Ekskuus, ou maat, vir ‘n yslike blaps.
留言