top of page

+ MORNAY DU PLESSIS – JUWEELMENS

Uitmelkbos


Vier matriekmaats van Potch-Volkies na 50 jaar. Van links is Giel de Swardt, Mornay du Plessis, Leon Engela en Hennie van Deventer.

Die eerste sterfgeval van ‘n matriekmaat wat teenwoordig was by ons klas van ’57 se “goue bruilof” in September 2007 is die van Mornay du Plessis – na ‘n motorongeluk. Die nuus van sy treurige dood het werklik soos ‘n skokgolf deur die klas getrek, want hy was ‘n juweelmens vir wie ons almal lief was.

Sy nederigheid, vriendelikheid, mensliewendheid en sonnige glimlag het van hierdie ortopeed van Pretoria ‘n baie spesiale vriend gemaak.


Die laaste keer dat ek hom gesien het, was by daardie klas-re-unie by Volkies op Potchefstroom in September 2007. Hy was dalk die een van ons wat die minste verander het – jonk van voorkoms en van gees, en nog net so hartlik en opreg belangstellend in ons elkeen se wel en wee soos altyd.

Al het ons mekaar nie gereeld gesien nie, het ek wonderlike herinneringe aan Mornay, my kamermaat in standerd agt in die Jack Pauw-koshuis. Ons het saam vrugte gesteel langs Potch se watervore en smiddae “bok-bok-staan-styf”,”rounders” en “French krieket” gespeel.


Die kameraadskap tussen ons en twee boesemvriendinne, Marie en Juriana, met wie ons lank gekys was, onthou ek met deernis na meer as ‘n halfeeu. In ons eerste jaar op Tukkies het ek en Mornay selfs een keer Potchefstroom toe geryloop vir ‘n Sondagkuiertjie saam met ons meisies op Juriana-hulle se plaas naby Fochville.

‘n Geskenk van Mornay is ‘n CD, “Strykers vir Snuiters van Christa Steyn”, met onder andere ou volkspeleliedjies soos “Kom Patertjie buig” en “Jy, jy, laat my soms treurig voel…”

Ek luister daarna en voel dan werklik treurig oor Mornay.

+ Mornay du Plessis is op 18 April 2009 oorlede. Christine Marais (nee Steyn) is op 16 Januarie 2008 oorlede, maar sy was weens haar siekte nie by die re-unie nie.

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page