top of page
  • Uitmelkbos

MORE SE KOERANT VANDAG


‘n Veel jonger HvD en Bob Lindsay van Associated Press gesels oor landlyne in Londen in 1974.


‘n Jong joerrnalis, Anena Burger, verteenwoordig my ou koerant. (Die) Volksblad, in die Noordweste. Op Facebook skryf sy soos volg: “Vanaand was ‘n goeie eerste. Vanaand het ek my storie en foto’s deur Whatsapp Bloemfontein toe gestuur omdat die storm ons sonder krag en behoorlike sein gelos het.”

Die ou man se verstand duisel. Van die tiekieboks, die landlyn en selfs verskillende vorme van padvervoer af tot hedendaagse hipermoderne plat slimfone, tablette en internet wat op die minimum sein kan werk, is omtrent so ver soos ‘n maanreis en nog ‘n entjie.

Ai, die tiekieboks. Dit was doer in die 60’s die vinnigste en betroubaarste manier om jou berig by die tuisbasis te kry. Moet bely toe ek jonk was, het ek nogal vernaam gevoel as ek die gehoorbuis optel en plegtig meedeel: “Perskollekteeroproep na Bloemfontein nommer so-en-so. Dis dringend asseblief”.

Soms was dit selfs nodig om te bel met ‘n sak vol vyfsentstukke. Dan is aan die ander kant ‘n ongeduldige tikster, party so blitsig op die sleutelbord dat hulle jou aanjaag en vererg reageer as jy na woorde tas.

Een by Volksblad, die uiters knap Anda van den Heever, later Le Roux, moes op ‘n dag berigte van Quintus van Rooyen oor die telefoon afneem. Dit het maar gesukkel maar. Quintus wou gedurig veranderinge aanbring soos hy lees. Anda vererg haar toe, vat haar handsak en stap by die deur uit. Sy was later prof. Anda le Roux – in sielkunde of iets.

Die alternatief was die teleks. Jy het jou berigte by die poskantoor gaan ingee en gehoop op die beste. ‘n Keer het Herman le Roux se hele vrag kopie oor ‘n rugbytoets in Nieu-Seeland nie by (Die) Volksblad uitgekom nie maar by ‘n handelaar in gebruikte motors in Welkom. Die teleks het twee nommers verwar. Verslaenheid en frustrasie oweral.

Met ‘n rugbytoets in Bloemfontein is berigte met ‘n toutjie van die hoofpaviljoen af laat sak na waar ‘n motorfietsryer met brullende enjin gereed gestaan het. Hy het dan laat waai na Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) waar die setters gereed gesit het agter hul enorme swart warmloodmasjiene.

‘n Mooi motorfiets-storie is van daardie nuusvrou duisend, die onstuitbare Rykie van Reenen. Met die begrafnis van dr. H.F. Verwoerd het sy, onder geweldige tydsdruk, sonder aarseling in haar begrafnisrok by die Uniegebou agter op fotograaf Postma van Jaarsveld se motorfiets gespring vir ‘n hellevaart na die helde-akker, met haar begrafnishoedjie op die kop vasgedruk.

Die versending van foto’s was veral ‘n reuse-uitdaging. Die tegnologies gevorderste metode was die landlyn. Die foto is pynlik tydsaam kolletjie vir kolletjie op ‘n poskantoorlyn versend en op ‘n drom anderkant ontvang terwyl die nuusredakteur staan en trippel.

Vir jare had ons koerant nie sy eie landlynmasjien nie. Belangrike landlyne is soms op die tippie nog by die poskantoor gaan oppik. Dan moet jy roer om met jou kosbare vrag betyds by die kantoor te kom. Een dag is geen redaksiemotor beskikbaar nie. Ek ry met ‘n sirkulasie-paneelwa. Haastig terug kantoor toe, sit ek die dem ding in trurat by ‘n verkeerslig. Amper ‘n moles maar die foto was daardie middag op bladsy een.

Daar was ook spoedpos (hoe meer haas hoe minder spoed), vliegtuie en motorvoetuie van verskillende aard.

Met parlementsopenings was een van my take as parlementêre verslaggewer om betyds vir die laaste vlug Bloem toe op die Kaapse lughawe ‘n koevert te besorg met foto’s van die modebewuste vroue van politici. Het sommer ‘n passasier voorgekeer en gevra: Vat tog saam, asseblief. Iemand van (Die) Volksblad sal dit op die lughawe by jou kry. Dan bel ek met die tiekieboks en verduidelik hoe lyk die koerier, sy of haar klere, ens.

‘n Keer kry ek eksklusief die foto’s van ses mense van Sasolburg wat in ‘n motorongeluk by Parys uitgewis is. Sit dit op die sirkulasiepaneelwa, is my opdrag uit Bloemfontein. Ek maak toe so. Die volgende oggend bel die nuusredakleur, Oom Gert Terblanche (nou 92): Boeta, waar’s die foto’s?

Op die paneelwa, Oom Gert. Maar toe slaap daardie paneelwa daardie nag op Kroonstad sonder enigeen se medewete. Neusie verby!

Aijajaja-ja. Wat sou ons gryses nie wou gee vir die luukse van die e-era nie: so vinnig, maklik, doeltreffend. Maar kan kommunikasie selfs nog vinniger, makliker, beter? Die ou man se verstand duisel des te meer oor wat die toekoms dalk kan inhou – selfs ‘n foto van iets voordat dit nog gebeur het! More se koerant vandag!

#hennievandeventer #tiekieboks #melkbos #landlyne #koerante

0 views

Recent Posts

See All

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page