Die rolprenttoneel wat mense laat ophou stort het. Só is verwys na die bloedstollende stortmoord in die Alfred Hitchcock-riller Psycho wat in 1960 die silwerdoek met ‘n skok getref het.
Vir die wye stort-fobie wat daardie toneel sou veroorsaak het, kan ek nie instaan nie, maar dit was woes. Dit het rillings langs die ruggraat afgestuur. Fliekgehore het asems opgetrek en gilletjies het oral in die donkerte opgeklink. As dit fynbesnaarde mense afgeskrik het van stort, sal dit my nie verbaas nie.
Dié vreesaanjaende moord in die stort is een van die onvergeetlike fliektonele wat dadelik by my opkom as ek begin lysie maak van dié wat my deur die jare besonderlik getref het. In Psycho speel Anthony Perkins die rol van ‘n reeksmoordenaar, Norman Bates. Die mooie Janet Leigh speel ‘n sekretaresse, Marion Crane, wat in ‘n motel wegkruip nadat sy haar baas bedrieg het. Dit is in daardie motel waar sy haar einde in die stort teenkom.
Die toneel word as uniek beskou omdat die kamera as ‘t ware die mes word waarmee Marion doodgesteek word terwyl die water op haar neergiet. Dit duur net ‘n minuut of drie op die skerm, maar het sewe dae geneem om te verfilm. Die arme me. Leigh (op die foto) was glo die hele tyd self in die stort.
‘n Ander beroemde toneel wat die asems laat jaag het, is natuurlik die meer onlangs kruising van bene deur Sharon Stone in die rolprent Basic Instinct (1992) saam met Michael Douglas. Die speurders wat haar ondervra oor ‘n moord, sien me. Stone se slanke bene tot doer bo, en dis nie al wat hulle sien nie!
Vir erotika is ‘n ander, heelwat ouer, toneel egter steeds top in my boekie – dit is die seduksie op die poeltafel in Roger Vadim se And God created woman, wat ek in 1959, my tweede jaar op Tukkies, in die Monte Carlo-bioskoop in Hatfield gesien het.
In die rolprent was die Franse sekskatjie Brigitte Bardot – nou ‘n uitermate beplooide 75. Maar toe was sy fraai en begeerlik en het sy ons Kollegemanne die Monte Carlo laat vol pak in die hoop op ‘n glimpsie geheime lyf.
In And God Created Woman is ‘n kaal bolyf inderdaad vlugtig uitdagend na die kamera gedraai. My eerste. Ai, ai. ‘n Opgewonde fluistering het deur die bioskoop getrek. “Liewe Here!” het iemand oorstelp uitgeroep.
‘n Toneel wat my (seker maar weens ‘n ongelukkige Chauvinistiese streep) behae gegee het, was in David O’Selznick se Gone with the wind van 1939, ‘n epiese rolprent wat handel oor die Amerikaanse burgeroorlog.
In dié tipiese Amerikaanse “road show”, wat hom in die deelstaat Atlanta in die Amerikaanse suide afspeel, was wonderlike sterre soos Clark Gable, Vivien Leigh, Leslie Howard en Olivia de Havilland.
My gunstelingtoneel was waar Clark Gable as Rhett Butler vir Vivien Leigh as Scarlett O’Hara snedig toevoeg: “Frankly, my dear, I don’t give a damn.”
‘n Snaakse rolprent met vele uiters snaakse toneeltjies was The Fast Lady, ‘n Britse komedie van 1962, met gewilde Carry On-sterre soos Stanley Baxter, Leslie Phillips en James Robertson Justice. Ene Julie Christie het daarin haar debuut gemaak – en wat ‘n loopbaan!
Die Fast Lady is egter nie me Christie nie – dis ‘n swierige Bentleymotor. Ek wou in die gangetjie rol van die lag vir ‘n toneel waarin twee ambulansmanne ‘n pasiënt, toegewikkel in verbande, op ‘n draagbaar oor die straat dra. Dan kom die Bentley oop en toe aan met ‘n onbeholpe Stanley Baxter agter die stuur.
Die manne in uniform sit die draagbaar neer en laat spaander. Die pasiënt beur pynlik stadig orent en begin uit die pad van die aanstormende kar hinkepink – net-net betyds.
Heerlike fliekmoment!
Comments