Vyftig jaar gelede: joolkoningin Marguerite Deale
‘n Slegte ommissie in gister se intervarsity-inskrywing was ‘n foto van die “mooiste meisie langs die veld” .
Hier is nou, in haar volle glorie, Marguerite Deale, die joolkongin wat in my denkbeeldige stuk voor die Matie-stryd saam met Tukkie-dirigent Jan Lombard ‘n glasie met hul Matie-eweknieë klink.
Op die foto is Marguerite natuurlik nie geklee vir ‘n middag/aandjie langs die rugbyveld nie. Lyk meer soos ‘n “Southern belle” uit die 1939-Hollwood-treffer “Gone with wind”. Dit kon net sowel Scarlett O’Hara (Vivien Leigh), ster van dié immergroen rolprent, gewees het wat soos ‘n standbeeld daar staan.
“Perdeby”-fotograaf Dirk Cloete het die stralende Marguerite in haar ouerhuis afgeneem by die finale passing van haar droomrok twee dae voor haar kroning. My teenwoordigheid by die geleentheid word verklaar deur my redakteurskap van die studentekoerant “Die Perdeby” in die jaar dat sy die joolsepter geswaai het. Ek was by om ‘n berig te maak vir die Vrydag se “Perdeby” oor die joolkongin wie se identiteit op daardie oomblik nog ‘n geheim was. “By” was by – ‘n “scoop” vir my koerant.
Die Saterdag met die optog was Marguerite ‘n koninklike figuur hoog op die hoofsierwa saam met haar prinsesse, Gerda de Bruyn; Ivette Bauristhene; Florence Wiid en Dawn Coetzee. Gerda het later mev. Oupa du Piesanie geword. Die kookwater-flank was Tukkies en die Blou Bulle se rugbykaptein.
Darem nie reg dat ek met alles rondom Tukkies spog en die kersie op die koek nalaat nie. Stel dit graag reg!
Naskrif: Dieselfde foto is voorheen hier geplaas by ‘n inskrywing oor joolkoninginne van my Tukkietyd. Inderdaad toe met Marguerite kontak gemaak iewers aan die Rand. Daardie spoor het egter nou weer doodgeloop.
Comments