HEELBO: Tafelbergpark se sipresse
BO: Monterey se eensame sipres
Die plek-plek krom, skewe en knoetsige stamme van die treffende bome by die Buffelsfontein-inligtingsentrum in die Nasionale Tafelbergpark (Kaappunt) het bekend gelyk. Ná heelwat rondvra kon ons eers die naam vasstel.
Monterey-sipresse – natuurlik! Ons het die ware jakob 35 jare gelede in die Monterey-skiereiland langs die Kaliforniese kus gesien. Een, die sogenaamde, Lone Cypress, klou windverweerd vas aan ‘n ruwe rotswand aan die skilderagtige Carmelkus. Daardie boom is ‘n bekende baken en ‘n trekpleister vir fotograwe en kunstenaars. In die Del Montewoud, digby die beroemde Pebble Beach-gholfbaan, staan ‘n magdom – “ghosts fleeing before the wind”, het Robert Louis Stevenson hulle genoem. Een is inderdaad bekend as Ghost Tree – sy stam is gebeeldhou en bleekwit gekleur deur wind en seesproei.
Ons was 7 Augustus 1977 op die onvergeetlike sogenaamde “17-Mile Drive” by Monterey. Ek weet dag en datum want die vorige dag het ons by Craig Lauterbach se houtgalery “The inquisitive Eye” in die beroemde “Cannery Row”, Carmel, ‘n horlosie uit ‘n manjifieke stuk sequia (Amerikaanse “red wood”) gekoop. Ons het $132 dollar daarvoor betaal en dit sorgsaam vertroetel op elke vlug tot terug in Johannesburg. Op die laaste been, van Rio de Janeiro, af kraak ons horlosie toe middeldeur. Ai tog! Nietemin, die stuk rooihout hang steeds in ‘n woonhoekie. Dit hou nog vir ons tyd. Die oorspronklike belegging van $132 dollar het seker heelwat toegeneem!
Die Amerikaners noem daardie 17 myl (dit begin by Clint Eastwood se fraai dorpie Carmel) die “Circle of Enchantment”. Die hele kuspad van San Francisco af Los Angeles toe is eintlik die ene “enchantment”. Dis ‘n wonderskone, betowerende kus. Toe Tim du Plessis in 1992 as Nieman Fellow Harvard toe is, het hy my gevra wat hy in Amerika kan doen wat buite die gewone is. “Gaan ry daardie kuspad” was my advies. Sy dankbaarheid is later mildelik betuig.
Die beskutte baaitjies, blou-blou berge, vlammende veldblomme en verskeidenheid wildsoorte maak van ons Tafelbergpark en omgewing bepaald ook ‘n plek van “enchantment”. Dis betowerend, nie net om met die funicilare of dapper en stapper Kaappunt te bestyg nie, maar veral om elke afdraaipad te vat. Dit het ons nou die eerste keer gedoen: Kaap die Goeie Hoop, Buffelsbaai (lyk baie nes die Tuinroete se Buffels), Bordjiesrif, Rooikrans, Black Rock, Booi se skerm, Neptune’s Dairy, Olifantsbos, die sirkelroete …. Elke pad bring betowering. Die uitsigte weerskante op albei oseane is ongelooflik. Die veldblomweelde wil-wil vir die etiket van “weergaloos” kwalifiseer.
Toeriste beroof hulleself deur vinnig in te zits, die berg te bestyg tot by die ou vuurtoring, ‘n klompie vinnige foto’s te neem en dis dit. Vat julle tyd mense, bring ‘n piekniekmandjie en ‘n vleisie saam. As jy ‘n stapper is, gaan verken elke roete met jou rugsak en ‘n lied op jou lippe. Bring ‘n dag of twee in die park deur. Daar is slaapplek. Anders: slaap op Simonstad, Kommetjie of Scarborough. By Slanghok, Kommetjie, is ‘n tentekamp. Lekker aards.
En ook buite die park self is asemrowende vistas: Smitswinkelbaai daar van bo af, Kommetjie aan jou voete as jy van Scarborough se kant kom. En ry beslis (en stadig) die “nuwe” Chapmanspiekpas. Dit bly een van die heel mooiste kuspaaie ter wêreld en die opgradering was voortreflik. Dis die tolgeld van R32 deur en deur werd. Moenie die plankiespad by die reuse-pikkewynkolonie by Bouldersstrand, Simonstad, afskeep nie. Elke minuut daar is kosbaar.
Wonder hoe die Amerikaners met hul bemarkings-bekwaamheid hierdie ongelooflike hoekie van Afrika sou bemark. Sir Francis Drake se “fairest cape” sou maar net die begin wees van die jubelkore wat sou opklink. Twee en ‘n halwe dag daar was soos ‘n eksotiese oorsese reis vir my en mev. Van Deventer.
Uitnodiging: Besoek my Picasa-foto-album “Tafelbergpark” by www.picasaweb.google.com/hennievandeventer
Comments