Gloria in excelsis deo, Gloria in excelsis deo, Gloria in excelsis deo.
Met dié lofprysing, so aanhoudend herhaal, het die kleinerige Melkbosse kerkkoor ons jaarlikse Kerssangdiens op ‘n hoogtepunt met ‘n kragvertoning afgesluit. Die woorde het ‘n element van dringendheid oorgedra wat die gemeente geboei in hul plekke laat talm het. Dit was asof hulle die roerende oomblik wou vasgryp.
My laaste indrukke van die sielsverheffende diens, toe ek uiteindelik by die kerkdeur uitstap, was van die drie soliste en die koorleidster in ‘n klein intieme gesinsgroepie wat bly sing en dirigeer: Marius Falck, leraar met die goue stem, sy twee dogters, Terina en Magdaleen, en koorleidster, Wilna Falck, die pastoriemoeder met ‘n musiektalent wat haar man se stem ewenaar, indien nie oortref nie.
Glorie aan die Van Trapp-gesin van Melkbos – so het my gelukwensing gelui.
Die lied se naam het ek later by Wilna verneem: Í will sing to the glory of the King. Stukkies daarvan herinner aan Joan Baez se onvergeetlike Khumbaya my lord. Ons wag nou reikhalsend vir die DVD wat deur die alomteenwoordige koster, Izak van der Walt, vervaardig is. Gaan dit nog voor Kersfees voos speel. Weet sommer.
Op Facebook is ‘n groepie jong vriende wat die wonderlikste musiek by wyse van webskakels met mekaar deel. Ek wens werklik ek kon van daardie koorwerk ‘n skakel opsit – op Facebook en waar nie oral nie – sodat almal in daardie glorieryke musiekbelewenis kon deel.
Met dié onhaalbare wens in gedagte, begin ek uit ons ander pak Kersmusiek – CD’s en ou langspelers – gunstelinge uitsoek. Mense, as dit hoegenaamd moontlik moontlik was, was hier nou skakels op hierdie blog na die volgende meevoerende liedere:
Uit die private Kersprogram vir 1992 van ons vriendin Nella Jacobs van Centurion: Benedictus uit A mass for peace deur die Londense Filharmoniese orkes onder leiding van Karl Jenkins.
Uit ‘n stel langspelers A country style Christmas: O holy night deur George Beverly Shea (meesterlik!), O little town of Bethlehem (Burl Ives) en I heard the bells on Christmas day (Johnny Cash).
Uit ‘n geskenkplaat van Lufthansa rondom 1970: Stille nacht deur die Bielefelder Kinderchor.
Uit die CD Christmas in Vienna (opgeneem in die Rathaus, Wenen, op 23 Desember 1992): Amazing Grace (Diana Ross op haar allerbeste) en Wiegenlied (Placido Domingo).
Uit die CD A Christmas collection: Little drummer boy (Vera Lynn, die troepies se liefling in WOII) en Adeste Fideles (Nat King Cole).
Uit die Afrikaanse versamelaarsitem 30 Grootste Kersfeestreffers: Koos du Plessis se Somerkersfees (hoe dan anders?) deur Piet Smit.
Uit die CD Kersfees vir altyd deur die nimlike Marius Falck: Hierdie kind.
As hierdie musiek jou nie in ‘n gewyde Kersstemming kry nie, sal niks dit kan regkry nie. Gaan luister dan maar na Jingle Bells in die opgetooide winkels.
Enkele notas:
* Die platestel van Amerikaanse Kersmusiek op die country-styl het ek en Tokkie saamgebring uit Boston na ons jaar by Harvard in 1976/77. Ek hou steeds vol dat ‘n Amerikaanse wit Kersfees jou nader aan jou Skepper laat voel as enige anders Kersfees wat ek al deurgebring het.
*Die Lufthansaplaat was ‘n geskenk deur die Duitse lugredery aan mediamense. Ek het myne gekry as nuusredakteur van Die Volksblad in Bloemfontein.
*Om ‘n keuse van net een enkele Stille Nag te maak, was amper onmoontlik. Die drie finaliste was die wenner hierbo (Bielefelder Kinderchor) en twee ander uiters sterk candidate, een (ook Duits) deur Placido Domingo, Diana Ross en José Carreras en die country-weergawe deur Carl Smith.
Skielik wil-wil ek twyfel of ek reg gekies het. Maar as ek nou aan een van my keuses verander, stort my hele kaartehuis (van stylvolle ou Kerskaarte) in duie.
Comments